Pages

Monday, 6 October 2014

'n Padkaart vir Padkos

Mariëtte skryf op 3 Oktober as kommentaar op JV se vraag, “Is hier mammas wat Klein Pelgrim lees vir hulle kinders? Van watter ouderdom af het julle begin?” : 
“Jy kan al klein begin met die kinders en dit op jou eie manier vir hulle vereenvoudig. 
Toe my kinders klein was, het ek op die oulikste Engelse boek van Pilgrims Progress afgekom wat heeltemal uit druk is. Ek het dit by ons vorige kerk in die biblioteek gekry en in die boek het hulle 'n padkaart van die storie in die middel gesit. Ek het die kaart op my skewe stokmannetjies gereproduseer vir hulle en vir my Sondagskoolklas en dit was 'n groot 'hit'. Ek kan nie teken om my lewe te red nie, maar dit het die kinders glad nie gepla nie. Ek dink die boek is so ‘real’ dat 'n mens op enige gegewe dag presies weet waar jy as pelgrim in jou eie lewe is. En soos wat jy dit in jou eie lewe ervaar, sal jy daardie kennis vir jou kinders kan oordra. 
Bv. my liewe meisiekind kon soms so moedeloos word oor dinge. Met die kaart in ons huis was my vraag gewoonlik waar op die padkaart is sy met haar moedeloosheid. En dan kon sy gou uitwys sy is by die 'castle of despair.' En hoe kom jy uit die 'castle of despair?' Die beloftes van God wat die sleutel is om uit die kasteel te kom. En dan het sy na beloftes van God gaan soek wat haar wapens was om die spesifieke situasie te hanteer. 
Soms as ek oor goed moedeloos voel is dit vir my te wonderlik om te sien hoe my kinders my ‘accountable’ hou en terug verwys na die padkaart. 
Ek hoop ek kan 'n foto aanheg om vir julle te wys wat ek gedoen het.” 
Intussen het sy die kaart vir my met e-pos gestuur :  "Hier is die foto van die kaart. Dis werklik primitief en was net met inkleurpotlode gedoen wat ek sommer by die kinders geleen het, maar mense wat 'n bietjie kuns-sin het, kan 'n pragtige een illustreer. Gelukkig hoef ons nie 'n Rembrandt te wees voor die Here ons kan gebruik nie, né!"


Ek plaas dit hier, met al die Afrikaanse name soos wat dit in Klein Pelgrim verskyn, onderaan.



City of Destruction = Die stad Verwoesting
Slough of Despond = Moedeloosmoeras
Morality Village = Wêreldwys se Dorpie (Goeie-Gedrag of Goeie-Werke)
Wicket Gate = Die Nou Poort
Beelzebub’s Castle =  Die Vyand se Kasteel
House of the Interpreter = Huis van die Uitlêer
Wall of Salvation = Muur van Redding
Pleasant Arbor = Rusplek onder die Bome
House Beautiful = Paleis Pragtig
Valley of Humiliation = Vallei van Vernedering
Deep Ditch = Diep Afgrond
Bog = Modder-moeras
Valley of the Shadow of Death = Die Donker Doodsvallei
Wilderness = Woestyn
Vanity Fair = Die Stad Ydelheid
Pleasant Meadow = Die Vallei van Vrede
Green Meadow = Die Sypad Weiveld
Doubting Castle = Kasteel Twyfel
Delectable Mountains = Die Lieflike Leersame Berge
Beulah Land = Die Betowerde Grond

Ek vertrou dit gaan al ons entoesiastiese mamma’s en ouma’s help en aanspoor om vroeër as later te begin met Klein Pelgrim se Reis. En saam met hulle almal sê ek baie dankie, Mariëtte, dat jy dit met ons deel! 
Iewers gaan ons iemand hê wat, glo ek, hierdie kaart in Afrikaans gaan teken en afneem en vir my stuur, sodat ek dit ook kan plaas. Dan kan daardie kaart in elke huis pryk om ons saam met ons kinders aan te moedig om nie langs die pad te bly lê as ons struikel nie. 

Of in die woorde van Josef aan sy broers in Gen 45:24 : Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie!

Dit is net moontlik, soos wat Klein Pelgrim voortdurend uitvind, as ons Heb 12:3 in ons harte en denke bewaar :
Hou Jesus voor oë, wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. DAN sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.


Wednesday, 1 October 2014

God en TYD

Therese vra na die vorige bespreking oor lang tydperke, die volgende :
Ek het wel 'n vraag oor die Skrif wat sê een dag is vir God soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos een dag. Kan dit nie beteken dat God wel oor 'n langer tydperk kon geskep het nie?

Hierdie is 'n legitieme vraag in terme van die wydverspreide aanvaarding in die Christendom onder leiers en leke, van lang tydperke wat met die skepping geïmpliseer is. Vandaar ontstaan die terme ‘teïstiese evolusioniste’ (mense wat tegelyk in God en in evolusie glo) en ‘progressiewe kreasioniste’ (mense wat in die skepping glo maar nie op 'n ‘outydse’ manier nie, eerder op 'n sogenaamd progressiewe/ontwikkelde wyse.)
Dit is gevolglik nodig dat elke Bybel-gelowige hom- of haarself verantwoord oor hul eie posisie, aangesien ons hier te make het met kompromieë tussen evolusie en skepping (iets wat vir konsekwente evolusioniste self onlogies en ondenkbaar voorkom.)
Daar het mettertyd 'n huwelik tot stand gekom tussen wetenskap en godsdiens, ook by name die Christelike godsdiens, agv die geloof dat die Bybel nie 'n ‘wetenskaplike handboek’ is nie en dus deur die wetenskaplike kennis van die dag aangevul moet word vir 'n beter verstaan van die werklikheid. Waar die bevindings en interpretasies tussen dié twee bronne dan oënskynlik verskil, het ‘die wetenskap’ stelselmatig voorkeur begin verkry bo die Bybel.
Die rede?
Die wetenskap verklaar verskynsels met sy 'onomstootlike wetenskaplike teorieë en bewyse’. Dit word aanvaar as genoegsame grond om Bybelse uitsprake te hersien, te korrigeer of te her-interpreteer. Die veronderstelling van so 'n benadering is dat die Bybelskrywers nie genoegsame wetenskaplike kennis gehad het nie en dat die Bybel  nie ten volle geïnspireer is deur die Heilige, Alwetende Gees van God nie.
Die gevolg?
Die aanname ontwikkel dat die WETENSKAP onfeilbaar is, terwyl die Bybel as Woord van God wel feilbaar is.

Dat die mens in sy natuurlike staat en met eie wysheid tot so 'n konklusie kan kom, is nie moeilik om te verstaan nie.
Dat die mens wat as Bybel-gelowige verander is en deur die Heilige Gees ook in sy denke en begrip van God vernuwe is, hierby aanklank vind, raak vir die meeste van ons mense in die geloofsgemeenskap problematies. Waar lê die waarheid nou?
Wie moet ek glo, en waarom? As wat vandag allerweë as 'wetenskaplike sekerheid' aanvaar word, more waarskynlik as uitgediende teorieë gaan geld in die lig van nuwe navorsing, volgens die bekende verloop van wetenskaplike geskiedenis, watter waarborge is daar vir vloeibare wetenskaplike kennis of bewyse? Hoe kan ek my kinders met sekerheid lei in so 'n verwarrende situasie?
As Genesis 1 se uitsprake her-interpreteer moet word, wat dan van die res van die Bybel?

Die teks waarna in ons vraag verwys word, staan in 2 Pet 3:8.
Let op na twee sake in hierdie argument :  
1. Net een helfte van die teks word in hierdie vraag se veronderstelde argument gebruik :
'n Dag is vir God SOOS 'n duisend jaar.” ('n Regte, letterlike dag en 'n regte, letterlike duisend jaar word hier met mekaar vergelyk. Die teks sê NIE 'n dag IS 'n duisend jaar nie, maar SOOS 'n duisend jaar vir God.)
Maar die omgekeerde is net so waar van Hom : “'n Duisend jaar is SOOS 'n dag vir God.”
Vir diegene wat hier 'n dag wil gelykstel met 'n duisend jaar, moet die teenoorgestelde dus ook geld : 'n duisend jaar sou dan ook gelykgestel moes word aan 'n dag. Die een stelling kanselleer logies die ander een uit, of veronderstel die ander een logies.
Dit herinner ook aan die uitspraak in Ps 90:4: "'n Duisend jaar is vir U soos gister, of soos een enkele wagbeurt (= 4 ure) in die nag."
Maar onthou nou, dis nie 'n stelling nie, dis net 'n vergelyking.
Met die oog waarop?
Om aan ons te verduidelik dat God nie beperk of beïnvloed word deur natuurlike prosesse in die TYD soos ons nie. Hy is met die SAAK, met Sy soewereine plan, besig en voer dit uit, ongeag van hoe ons dit in die tyd beleef of daaroor voel. Sy plan het hier te make met die redding van mense (HER-SKEPPING) en nie met die oorspronklike SKEPPING nie.

2. Die KONTEKS van hierdie bekende uitspraak van Petrus word normaalweg nie bereken wanneer dit aangehaal word nie. Dit is naamlik  NIE die skepping nie, maar wel die wederkoms van Christus, en wie dan daarvoor gereed gaan wees, waaroor dit hier gaan.

In dié betrokke konteks sê Petrus dus dat God (wat ons weet ewig is) buitekant TYD staan. Wat vir ons voel  soos 'n dag (kort TYD) of soos 'n duisend jaar (lang TYD), watter kant toe ook al, het nie betrekking op God nie en is niks vir Hom nie. Of dit dus kort of lank voel vir ons, ons moet die TYD wat ons wel het, kort of lank, UITKOOP om gereed te wees vir Sy koms en nie die heerlikheid van 'n ewigheid in Sy lieflike teenwoordigheid misloop nie!

Interessant genoeg was die omgekeerde probleem in die vroeër kerkgeskiedenis teenwoordig, nl dat mense gesê het hulle kan nie glo God het so LANK geneem soos 6 dae om alles te skep nie!
Let op Martin Luther se antwoord vir hulle, en ek vertaal vry :
“As Moses skryf dat God in ses dae die hemel en aarde en alles daarin geskape het, laat hierdie periode dan toe om steeds ses dae te wees. Moenie probeer om argumente te ontwikkel waarvolgens ses dae dan een dag word nie. Maar as jy nie kan verstaan hoe dit in sés dae moes gedoen word nie, gee dan ten minste vir die Heilige Gees die eer om meer geleerd te wees as jy. Want jy moet met die Skrif omgaan op so 'n wyse, dat jy onthou God sê Self wat geskryf moet word. En aangesien God Self aan die woord is, pas dit jou nie om Sy woord willekeurig te draai in die rigting waarin jy dit graag wil stuur nie.” (‘Six days or millions of years?’  deur Ken Ham, p 11) * 

Om dus Therese se vraag te beantwoord :

Vir God is NIKS onmoontlik nie. (Luk 1:37)
Natuurlik KON Hy oor 'n langer/baie lang tydperk skep – net soos wat Hy oor 'n korter tydperk/binne 'n oomblik kon skep.
Waarom (so lank soos) ses dae, soos ons dit ken?
Die antwoord vind ons in Ex 20:11, as basis van die vierde gebod : In ses dae het God die hemel en aarde en alles daarop gemaak, en op die sewende dag gerus, en daardie dag geheilig en geseën… Sodoende vind 'n 7-dag week sy oorsprong en betekenis in die Woord van God en die skepping.
Ons week word volgens hierdie prinsipe / vergelyking bepaal en bevestig en tot op hierdie dag draai die lewe van die mensdom om 'n 7-dag week.
God het ses letterlike dae gewerk en toe een letterlike dag gerus, as voorbeeld vir die mens om na te volg – nie ses duisend of ses miljoen jare as verteenwoordigend van ses dae nie. Was dit wel sulke lang ‘dae’, hoe sou ons dit kon navolg? Wat se soort ‘week’ sou ons dan hê? Wat sou die implikasie wees vir Adam, wat op ‘Dag’ 6 geskape is, geleef het deur ‘Dag’ 7 en daarna soveel ‘dae’ geleef het soos wat daar in 930 jaar is? (sien Gen 5:5)
Hoe lank sou Jesus in die graf wees volgens hierdie model – 3000 jaar?

Maak dit regtig saak wat ons glo oor die tydperk van die skepping?
Ek glo so, ja, saam met die menige skeppings-wetenskaplikes van ons dag en Bybelgelowiges van baie eeue.
Dit het uiteindelik ook implikasies vir ons hele verstaan van die verlossings-evangelie.
Evolusie-wetenskaplikes beweer dat die fossiel-lae dwarsoor die wêreld terugdateer na honderde miljoene jare gelede. Lank voor die verskyning van die mens, het verskillende laer lewensvorme ontwikkel uit mekaar na hoër lewensvorme, en was daar dus reeds dood, bloedvergieting, siekte, dorings en lyding.
Vir Adam het God egter gesê: As jy ongehoorsaam is en sondig, sal jy sekerlik sterwe... Dood het dus eers ingetree na die skepping en sondeval. Vir die Bybel vind hierdie verskynsels net een enkele oorsaak, nl die sonde.
Die dood kon dus nie (miljoene jare) voor die sondeval bestaan nie.
Net so het Jesus se kruisdood nie daarsonder enige rede of sin of hoop vir sondaars nie.

Ken Ham sê ten regte : "Hierdie idee toon 'n foutiewe benadering tot die Woord van God - asof dit geïnterpreteer kan word op die basis van feilbare teorieë van sondige mense." (p1) *



* Hierdie boekie, Six days or millions of years?, is uitgegee deur Answers in Genesis (www.AnswersInGenesis.org) en dien as basis van hierdie bespreking. Ek vertrou hiermee dat dit duidelik sal word hoe maklik verkrygbaar en beskikbaar antwoorde is op ons vrae en hoe onnodig dit is om oningeligte of eensydige menings te hê of te onderskryf.



Sunday, 21 September 2014

Die ystydperk – miljoene jare gelede?



Meline se vraag was aanvanklik : "Hoe pas 'dinosaurs' en iets soos die 'ice age' in God se skepping in as dit miljoene jare gelede was?" Ek het eers geantwoord met algemene riglyne om as raamwerk te dien by die benadering van sulke soort vrae - veral met die oog daarop om ons kinders te begelei in die vind van antwoorde. Toe het ek die vraag oor dinosaurusse beantwoord, en ingegaan op die miljoene jare/lang tydperke-teorie. Vandag wil ek die Ystydperk van nader beskou, en vertrou dat hierdie bespreking lig sal werp op die probleem. * 

Wanneer ons antwoorde soek oor die verlede, word ons gelei deur ons voorveronderstelde wêreld-beeld, soos wat ek reeds vroeër verduidelik het. 

Vanuit 'n Bybelse wêreldbeeld, kry ons bv ons antwoorde deurdat ons vra wie daar in die verlede teenwoordig was. Dus soek ons die antwoord by die Skepper, wat teenwoordig was toe die dinge in die verre verlede plaasgevind het. In sy Woord, wat nogal begin met die woorde: “In die begin het God…”, vind ons 'n magdom wenke en aanduidings en direkte uitsprake wat ons lei na antwoorde oor die verlede, ook vir die hede en die toekoms. Vergelyk byvoorbeeld die verwysings na iets soos 'n Ystydperk in die antieke boek van Job (37:9-10, 38:22&23,29-30).

In 'n sekulêre wêreldbeeld,daarenteen, word antwoorde gesoek vanuit ander uitgangspunte. So formuleer die Evolusionistiese wêreldbeeld sy geloof in waarnemimgs in die hede, as die sleutel tot die verlede. Verder verklaar die Evolusie-teorie alle waarneembare verskynsels vanuit 'n geloofs-aanname in lang tydperke, nl miljoene en biljoene jare. Die (laaste) Ystydperk het vervolgens vir evolusioniste 2 miljoen jaar gelede begin, en omtrent 11,000 jaar gelede geëindig. Maar die teorie aanvaar dat daar baie meer afwisselende ystydperke was, elke ongeveer 20-30 miljoen jaar. 'n Aanneembare verklaring daarvoor, bly hulle egter ontwyk. 

Wat is die noodsaaklike bestanddele vir 'n Ystydperk? 

Daar moet ten minste 2 komponente wees vir so 'n verskynsel om tot stand te kom : 
KOUE en WATER/VOG. 
Om net koeler lug te hê, is nie genoeg nie. Daar moet ook genoeg vog in die lug wees om ys-lae te vorm en in stand te hou. Dus, om 'n Ystydperk te hê, moet daar 'n manier wees om baie water uit die see in die lug en op die land te kry, in koue temperature, wanneer verdamping van vog juis onwaarskynlik en selfs onmoontlik is. 

Gevolglik is die oorsaak van die Ystydperk 'n misterie vir die Evolusioniste. Hierdie teorie kan wel 'n koeler aarde verklaar, maar dit gee minder verdamping en vog in die lug, wat nie 'n Ystydperk tot gevolg kan hê nie.  Globale verkoeling is nie 'n genoegsame oorsaak nie, want dan sou daar minder verdamping wees en dus ook minder sneeu.

Die probleemvraag bly dus : “Hoe is dit moontlik om albei gelyktydig te hê : 
'n koue klimaat en baie verdamping?”

'n Meer waarskynlike antwoord kom van die kant van Skeppings-wetenskaplikes. 
As 'n na-spel van die Groot Vloed, of Noag se vloed, toe al die fonteine van die groot dieptes oopgebreek het, moes baie warm water en lawa waarskynlik direk in die see gevloei het. Die gevolg hiervan was dat die baie warmer oseane (30°C) baie meer verdamping veroorsaak het. Terselfdertyd was daar groot hoeveelhede vulkaniese as en gasse in die lug na die Vloed, nadat die aardkors oopgebreek het. Hierdie aërosol in die atmosfeer het die sonverwarming op die aarde geblokkeer, asook sonstrale teruggekaats in die ruimte. So het die Vloed die kombinasie geproduseer van 
1. Baie verdamping vanaf die verwarmde oseane en 
2. 'n koue kontinentale klimaat agv die vulkaniese sonblok. 
Dit sou die toename in sneeu oor die kontinente kon veroorsaak. Wanneer sneeu vinniger val as smelt, bou yslae op. Waarskynlik het dit oor 'n paar eeue so voortgeduur.
Met hierdie waarskynlike verskynsels net na die Vloed, is dit moontlik om albei hierdie elemente gelyktydig te vind en te verklaar. Met warm water uit die onderaardse dieptes wat meng met die voor-Vloedse oseaan-water, word die oseane baie warmer as vandag. Baie meer verdamping vind plaas wat baie meer vog in die lug beskikbaar stel vir storms. So word sneeu en ys by middel- en hoë-breedtegrade gegenereer, naby die ontwikkelende ys-lae. Die as en gasse gee die nodige verkoeling van die somers. Al hierdie verskynsels tegelyk teen die einde van die Vloed, moes ‘soos 'n gelaaide geweer gewees het waarvan die sneller sonder uitstel getrek moes word – die Ystydperk moes eenvoudig net begin’.(Mike Oard)
Daar is sterk bewyse vir ys en sneeu wat na die Vloed meeste van Kanada en Noordelike VSA, Noord-westelike Eurasië, Groenland en Antarktika bedek het.

Nog 'n interessante verskynsel van die Ystydperk, is die sogenaamde Neanderdal-mense. Hulle is bekend vir hulle geboë, aapagtige voorkoms. Hierdie mense het naby die rand van die ysveld in Wes-Europa gewoon tydens die Ystydperk. Die donker, koue en klam klimaat van die landstreek in daardie betrokke tyd, het veroorsaak dat hulle gebrekkige blootstelling aan sonlig en gevolglike vit D-sintese gehad het – noodsaaklik vir normale beenontwikkeling.

Uiteindelik het die oseane geleidelik afgekoel (tot 10°C ) met gevolglike verminderde verdamping en verminderde sneeu-neerslae. Terselfdertyd het die gasse en as stelselmatig uit die atmosfeer beweeg en gaan lê, en is meer sonlig deurgelaat. Die gevolg van hierdie proses is dat yslae kon begin smelt – waarskynlik vanaf ongeveer 500 jaar na die Vloed. 
Groot mere het so begin ontstaan, met tydelike natuurlike ysdamme daarin. Maar wanneer hierdie damme uiteindelik begin kraak, moes die mere deurbreek met massa’s water wat geweldige destruktiewe krag moes uitoefen. Wanneer die sneeusmelting dus vinnig genoeg plaasvind, kan die riviere wat hierdie yslae dreineer, in vloed gaan en katastrofes in lokale gebiede veroorsaak.
Daar is sterk aanduidings dat van hierdie meer lokale katastrofes na die wêreldwye Vloed, na alle waarskynlikheid sekere groot soorte soogdiere, soos die mammoete, uitgewis het. Waarkynlik het dit ongeveer 700 jaar na die Vloed plaasgevind, wat as die einde van die Ystydperk gereken word (4000 jr gelede). 

Terwyl evolusioniste glo dat daar baie ystydperke was, meen Skeppings-wetenskaplikes dat dit meer waarskynlik is dat daar kom- en gaan-siklusse was, as gevolg van hierdie periodieke lokale oorstromings en katastrofes, binne 'n enkele Ystydperk.

Afkoeling van die oseane het steeds plaasgevind tot by die gemiddelde 4°C wat vandag gemeet word. Die uitwerking van die Ystydperk beleef ons nog steeds in terme van die reuse-ysvelde van Antarktika en Groenland, die Alpynse en Andesgebergte-gletsers en gletser-sedimente en -landvorme, bv in Nieu-Suid-Wallis se Sneeuberge en Tasmanië, wat herinner aan die werking van ys. 

Vraag : "Hoe pas 'dinosaurs' en iets soos die 'ice age' in God se skepping in as dit miljoene jare gelede was?"
Antwoord : Dit het nie miljoene jare gelede bestaan nie, en pas perfek in God se skepping in in 'n jong aarde-model. 
OF 
Jy glo dat God nie geskep het nie en dat Evolusie oor lang tydperke so 'n verskynsel laat ontstaan het, sonder dat dit verklaarbaar is. 


* Ek verwys net weer na die bronne aangegee in die aflewering van die post van 31 Augustus, wat hier gebruik is, asook die boek : Antwoorde oor die Skepping/Answers in Genesis, uitgegee deur CMI.




Thursday, 4 September 2014

Dapper Klein Pelgrim


Die blog-praatjie van 13 Augustus het ek afgesluit met die vraag : Word die plek van ons pyn en stryd gebruik as 'n terrein waar die krag en lewe-gewende geur van Jesus vertoon en versprei word?



Baie van ons mag dalk dink dis net 'n intellektuele spel van mooi-klinkende woorde - 'n teorie wat nie grondvat in die werklikheid nie. Ek glo dit is 'n saak wat in die praktyk geïmplimenteer kán word.
Is dit maklik? Nee.
Is daar 'n algemene 'resep' wat vir almal geld? Nee.
Maar wanneer ons die beginsel snap, kan ons dit begin oefen en toepas in ons eie verskillende situasies en uitdagings. Daarom is dit goed om die beginsel van 'n saak te deurdink en te formuleer. Maar om daar op te hou, help niks. Beginsels en algemene waarhede is bedoel om neerslag te vind in die praktyk van ons lewe. Dan word ons geloof, in Jakobus se terminologie, lewendig, en bly dit nie 'n lyk in lippetaal toegewikkel soos in 'n doodskleed nie. Daarom is die TOEPASSING (Engels 'application') van beginsels so belangrik, dat ons dit nie genoeg kan beklemtoon nie.
Die Puritein, John Owen, het dit so gestel, en ek vertaal dit vry en interpreterend : 
 'Ons sukkel om met vreugde en vryheid ons lewensstyl te stileer volgens Bybelse voorskrifte. 
En dit nie as gevolg van te min onderrig oor en kennis van 
belangrike beginsels oor onsself en oor God. nie, 
maar as gevolg van 'n gebrek aan noukeurige 
nadenke oor en toepassing van 
daardie waarhede.'

"Hoe?" 

Dis 'n moeilike en seker die mees gebruikte woordjie op ons tong, van die oomblik af dat ons kan begin praat. Hóé gebeur dit? Hóé omskep ek die terrein van neerlaag in 'n terrein van oorwinning en 'n sinvolle lewe?

Ek wil, aan die hand van 'n ware verhaal, 'n antwoord op hierdie vraag probeer illustreer.

Sy's my vriendin vir baie jare al. Ons het menige winters en lentes van ons persoonlike lewe asook ons ervarings met God gedeel. My man sê ons is 'bloedsusters', en omdat sy met haar kenmerkende erns alles geestelik interpreteer, glo sy vas dis die waarheid. "Ons is met mekaar verbind deur die bloed van die Here Jesus", meen sy, en daarmee is ons vriendskap verseël.


Sy het die mooi naam van Marianne.

Dit is 'n vroeg-Saterdagmiddag in die hoog-somer van 2009, toe sy die oproep kry wat geen ma wil ontvang nie. Haar 35-jarige seun het gras gesny by sy huis in 'n ander provinsie, toe die massiewe hartaanval hom sonder seremonie en in 'n oomblik wegneem...
Hoe is dit moontlik? Sy hoor nog sy stem vier dae tevore, toe hy met 'n werksbesoek in hulle stad vir laas nog by haar gekuier het vir 'n paar dae : 
"Ma, die oes in my huis is ryp. Wil julle nie oorweeg om na ons kontrei toe te trek sodat my kinders die voorreg kan hê om deur hulle ouma geleer te word nie?" 
Sy stem is pleitend en dringend, want hy begin verstaan hoe vinnig kinders kan grootword en hoe kosbaar die kombinasie van ervaringskennis en die liefde van 'n ouma vir hulle kan wees. Sy verduidelik hoe graag sy dit sou wou doen, maar hoe prakties onmoontlik dit op daardie stadium vir hulle is. En toe hulle groet - wat nou sy afskeidswoorde blyk te wees - weer vir oulaas : 
"Onthou, die oes is groot en dis ryp..."

En nou hier, telefoon in die hand, weerklink dit nog helder in haar. Met 'n onwerklikheid wat moeilik verteer kan word in hierdie oomblikke, beweeg sy skielik na die wêreld van tot nog toe ongekende pyn en rou smart. Haar hart breek in duisend stukkies.
Maar daar is nie nou kans of krag om kieskeurig en uitsoekerig te wees oor wat die gebroke kleipot vrystel nie. Reserwes wat oor lang jare moeitevol bymekaargemaak is, genade wat sorgvuldig van dag tot dag met die krag van die Heilige Gees ontvang en gedeponeer is en word, is al waarop sy nou kan terugval. 'n Lang, moeitevolle proses van treur, verlange en verlies-aanvaarding volg. In die stryd om te leer om sonder hom sinvol verder te leef, besef sy een ding : sy het 'n taak. Sy kan nie gaan lê nie. Sy moet sy dood laat TEL vir hulle wat nog lewe, en vir hulle wat sy lewe voortsit. Sy sal bid oor sy laaste versoek. Kan dit 'n opdrag word tot bereiking van veel meer kinders as net haar eie kleinkinders? Die oes is voorwaar groot, en ryp; die arbeiders maar min.

En so word haar smart die brandstof wat elke uitdaging in hierdie beproewende tyd aanspoor tot oplossings en aktiewe, sinvolle arbeid - vir Hom en vir hulle...
Vandag het sy reeds 'n paar boeke die lig laat sien, opgedra aan haar kinders en kleinkinders, en deur hulle aan al ons kinders.**

1. Sy het die Engelse klassieke verhaal van John Bunyan, deur Helen Taylor verwerk vir kinders, nl Little Pilgrim's Progress,
vertaal in die pragtigste Afrikaans : Die Klein Pelgrim se Reis.
Dit sluit die twee boeke/dele in van die onderskeidelike reise van die seun, Kleinchristen, en van die dogter, Christiana.


                                                                                                 Voorblad                                                                            

Agterblad                                                                          





2. Later word 'n gepaardgaande Inkleurboek uitgegee :



Agterblad    en  
                      Voorblad




3. Bybellesse vir kinders volg stuksgewys :


Sy het reekse preke begin deurwerk en dit toe vir kinders verwerk in 'n Bybelles-formaat, nl Arbeiders vir die Oes.
Dit is volkleur werkboeke, geskik vir persoonlike stiltetyd of huisgodsdiens of informele onderrig deur ouers of onderwysers of grootouers... noem maar op.
Nr 1                                                                                                                                Nr 2
                     en    
        agterblad (onder)
                    
                                           

Sy werk steeds onverpoosd aan die opvolg hiervan, 

asook aan die vertaling van 'n gids vir volwassenes by die gebruik van Klein Pelgrim. Haar gebed is dat God sy waarheid sal vaslê in hulle wat met een van die boeke en dus ook met die Bybel besig is; en dat hulle nie net sal kom tot geloof in en liefde vir die Here Jesus nie, maar ook hulle lewens sal wy aan die goeie dade wat Hy vir hulle bestem het.

En in die verskyning van elke nuwe uitgawe, sien sy die sin, en vier sy die nagedagtenis, van die lewe van 'n seun wat haar vir 'n kort tydjie vooruitgegaan het na hul ewige tuiste.

Intussen het ons familie-kindertjies reeds menige vreugevolle tye spandeer rondom die avonture van Kleinchristen en Christiana, met wie hulle maklik identifiseer, en word die lesse wat hulle daar leer, deel van hulle alledaagse spel en pret.

Het sy dit reggekry? Dit lyk vir my so.
Hoe? Met die krag van God wat alles oortref en wat in ons woon, het sy gekies vir diensbaarheid en gewillige onderwerping aan die wil van Hom wat die finale seggenskap het oor ons lewe.


Sal ek en jy dit ook so kan regkry?
Hoe lyk daardie besondere plek van aanvegting in ons lewe?
Sal ons dit nie ook maar begin benut as 'n terrein waar ons verliese 'n aansporing word om wins te maak nie? Dan kan ons ook die lewe-gewende geur van Jesus begin versprei, juis daar waar dit die meeste uitgedaag word.


** NS : Bestellings kan by Marianne self geplaas word per epos : mcswanepoel@gmail.com 

Pryse is soos volg vir ten minste nog die volgende 6 maande :
Arbeider-boeke = R70 elk; 
Inkleurboek = R50; 
Die Klein Pelgrim se Reis (deel 1 en deel 2 ingesluit) = teen 'n verminderde bedrag van R85,
                                                                                       en R70 vir 10 of meer.





Sunday, 31 August 2014

Dinosourusse : miljoene jare gelede? (2)


In 'n vroeëre post, van 28 Junie, het ek Meline se briefie begin beantwoord oor die onderwerp van Dinosaurusse en die Ystydperk. Haar vriendin se vraag was "hoe dinosaurs en iets soos die 'ice age' in God se skepping inpas as dit miljoene jare gelede was."

Kyk mooi na hierdie vraag. Daar is twee veronderstellings wat albei aanvaar word : 
1. God het geskep (in 'n kort tydperk - 6 dae). 
2. Dinosaurusse en die ystydperk is bewyse van 'n baie ou aarde met baie lang evoluerings-
    prosesse (oor 'n baie lang tyd - miljoene jare).

Omdat die twee stellings wedersyds uitsluitend is, bring dit 'n logiese probleem mee : watter een is nou waar? of waar verstaan ek dit nou nie reg nie? of hoe moet ek nou die twee 'waarhede' versoen kry? *

Ons tweeledige vraag hierbo vra van ons rekenskap tov albei sake :

Eerstens : Het God geskep?  
Die antwoord op hierdie vraag is ononderhandelbaar in terme van ons fondament : ons geloof in God en die onfeilbaarheid van die Bybel as foutloos en tydloos waar. (Dit is op sigself 'n studieveld wat nagevors kan word en waarvoor daar reeds baie bewyse geboekstaaf is indien jy een van daardie ondersoekers is wat nodig het om al die bewyse na te gaan voordat jy dit kan glo.) Gen 1 is baie duidelik oor God se skepping. In die begin het God die hemel en die aarde geskape, in 6 dae, geskei van mekaar deur 'en dit was aand en dit was môre, die ...(volgende)...dag.' Die res van die Bybel bevestig dit op baie plekke en maniere, in verskillende kontekste. **

Tweedens : Het dinosaurusse en die ystydperk miljoene jare gelede op die aarde verskyn?
Hierna moet ons ondersoek instel en gefundeerde antwoorde probeer vind met die nodige inligting tot ons beskikking.
 Daar is bv baie bewyse van die bestaan van dinosaurusse, met die vele skelette wat reeds opgegrawe is. Hoekom praat die Bybel dan nie van hierdie diere nie? 
Die woord 'dinosaurus' is eers so laat in die geskiedenis geskep soos in 1841, deur 'n Britse wetenskaplike met die naam van Richard Owen. Hy het die twee Griekse woorde 'deinos' en 'sauros' saamgevoeg, wat letterlik beteken : 'geweldige / verskriklike akkedis'.
Die Bybel en alle getuienis uit van die oudste en meer resente beskawings, ken wel woorde soos draak, monster en Leviatan. *** 
Volgens alle beskrywings en voorstellings daarvan, is dit massiewe, wrede reptiele wat punt vir punt ooreenkom met wat die moderne wetenskap vandag 'dinosaurusse' noem. ****
En dieselfde moderne wetenskaplike navorsing het in resente tye - tot sy eie verleentheid - ontdek dat daar rooibloed-selle in die been van vele dinosaurus-skelette is. Dit beteken dat hulle onmoontlik miljoene jare gelede kon leef, maar saam met die mense op aarde geleef het, en dit nie só lank gelede nie.

Te midde van hierdie onomstootlike bewyse, soek evolusie-wetenskaplikes na ander oorsake, aangesien hulle, volgens hulle eie getuienis, nie kan 'glo' in 'n jong aarde nie.*****  
Dit is weer eens 'n bevestiging van die stelling : "Ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek, voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging."

Wat het dan van dinosaurusse geword? Waarom leef hulle nie meer tussen ons as hulle nie 'miljoene jare gelede' reeds uitgesterf het nie? Skeppings-wetenskaplikes vind baie antwoorde op soortgelyke vrae in die verskynsel van 'n wêreld-wye watervloed - wat natuurlik in die Bybel te vind is in die sondvloed, in Noag se tyd. As 'n mens daarin glo, is dit maklik om van daardie feit af na die gegewens op die tafel te gaan kyk en dit in daardie lig te verklaar. *****
Kortliks kom die antwoord van Skeppings-wetenskaplikes daarop neer dat daar skielik geweldige watermassa's tydens die sondvloed vrygestel is. Hierdie water het nie net van bo af neergereën nie, maar het ook vanuit die onderaardse dieptes uitgebars. Dit het vervolgens groot getalle diere, waaronder die dinosaurusse, in 'n kort tydjie meegesleur en onder modderwater begrawe, waar hulle vinnig dood is en kon versteen sonder dat daar vinnige verweer kon plaasvind. Dit verklaar ook die 'massagrafte' op verskillende plekke in die wêreld, asook die besonder goeie preservering van fossiele , selfs in sekere gevalle nog met groen blare in hul bekke of in die geboorte-proses.


Soos wat wetenskaplike kennis eksponensieel toeneem gedurende ons leeftyd, raak dit al hoe duideliker en makliker vir Christen-wetenskaplikes om die geloofwaardigheid van die Bybelse Skeppings-verhaal te verdedig teenoor die spekulasies van die evolusie-teorie.  

Is die skeppings-geloof ook 'n teorie? As dit deur ménse uitgedink is, ja.
As dit deur God as feite aan die mens geopenbaar en verkondig word, nee.

Die vraag is : Gló ek dit? 
Sal dit my verwysingsraamwerk rigting-gewend beïnvloed? 
Sal ek vir myself en my kinders 'n posisie daarin kan vind van waaruit ons die wêreld kan interpreteer? 
Ons uitdaging is om intelligent, ingelig en ywerig te wees om andersdenkendes so te ontmoet, dat ons onsself en hulle kan aanmoedig tot dieper soeke na antwoorde en die waarheid. 

Die Ystydperk kom 'n volgende keer aan die beurt.



Ons het in ons vorige praatjie 'n uitgangspunt geformuleer wat vir ons kinders 'n raamwerk kan skep waarbinne hulle onderwerpe soos hierdie kan ondersoek sonder om onnodige gevaar te loop dat hulle hul geloof in die bestaan van die Skepper-God sal kompromiteer of prysgee. Kinders, veral, is baie beïnvloedbaar. Dit is dus nodig dat ons van kleins af vir hulle 'n verwysingsraamwerk skep waarbinne hulle sinvol kan leef en van waaruit hulle die buitewêreld kan bekyk en verwerk. 
Sommige mense kan 'n probleem daarmee hê en voel dat dit nie objektief genoeg is vir wetenskaplike ondersoek nie. Die feit van die saak is egter dat alle ondersoeke, insluitend wetenskaplike ondersoeke, uitgaan van wat ons noem voor-veronderstellings. Met ander woorde ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging
Onthou dus : 'n Voorveronderstelling word altyd gebou op die fondament van 'n geloofs-posisie of -standpunt, en dit skep vir ons die raamwerk waarbinne ons die omringende wêreld benader en interpreteer.
Toegepas op ons onderwerp : Ek glo dat die Bybel waar is en dat die God van die Bybel die Skepper en Onderhouer is van wat Hy geskep het. Met hierdie geloofs-raamwerk as fondamentveronderstel ek sekere dinge as waar/onwaar, en gaan ondersoek ek nou die gegewens tot my beskikking en vra hoe dit inpas in hierdie raamwerk.

**     Bv. Ps 19:2 & Ps 104; Jer 10:12 & 51:15-19; Rom 1:20; Joh 1:2&3; Heb 11:3
***    Bv Ps 74:13&14 en Jes 27:1en Job 40
****  Sien 'Dragons or Dinosaurs? Creation or Evolution? deur Darek Isaacs, pp 15&16
       Tanya het na ons eerste praatjie oor hierdie onderwerp die webadres van CMI (Creation
       Ministeries International aanbeveel. Ek gee dit net weer hier.
      www.creation.com, asook die volgende 'links' :
      http://creation.com/dinosaur-questions-and-answers
       http://creation.com/mammoth-riddle-of-the-ice-age
       http://creation.com/images/pdfs/cabook/chapter16.pdf
      Kyk gerus ook na hulle U-Tube video oor 'The Bible and dinosaurs'.

***** Om dit nie te glo nie, maak die idee van 'n wêreldwye vloed as deur na antwoorde in die ondersoek tóé, en moet ander torieë en 'bewyse' gevind word om die verskynsels te verklaar. 
Die mees aanvaarde maar onbewysbare 'bewys', is die geloof in lang tydperke/lang TYD. 'Miljoene jare gelede' is nie 'n konsep wat bewysbaar of ondersoekbaar of wetenskaplik navorsbaar is nie. 
Dit gaan nie in die Skeppings-Evolusie-debat oor godsdiens teenoor wetenskap nie, maar wel oor een geloofsoortuiging teenoor 'n ander.
Evolusie en lang tydperke/miljoene jare is 'n teorie wat deur mense uitgedink is en wat aanvaar moet word as iets waarin jy glo, sodat gegewens wat nie op 'n ander manier verklaar kan word nie, daarin geplaas en geïnterpreteer kan word. Die bewyse wat aangevoer word, mag oortuigend klink vir onnadenkende en oningeligte mense, en word aanvaar deur vele denkende, ingeligte natuur-wetenskaplikes, nie op grond van die oortuigingskrag van die bewyse nie, maar op grond van die geloofs-raamwerk van waaruit hulle werk. Vandaar die opkoms van die Evolusie-teorie oor die afgelope eeu, as 'wetenskaplike' model.




Friday, 22 August 2014

Wees versigtig en paraat met jou denke (3)

In ons vorige aflewering oor die belangrikheid daarvan om ons denke te beheer en te oefen, het ons skema'tjie oor die drie hoofstappe so gelyk :
(1) GEDAGTES  lei tot iets wat ek
(2) GLO.  Ek glo dit net omdat ek van mening is dat dit WAAR is. Niemand glo immers iets wat hy meen 'n leuen is nie. En hierdie geloof lei tot iets wat ek op grond daarvan
(3) IS/DOEN.
Ek het die artikel afgesluit met die opmerking : "Tussen die drie hoofstappe, naamlik tussen stappe 1 en 2, en tussen stappe 2 en 3, is daar telkens 'n stap wat ons maklik miskyk, maar wat aandag moet kry. Omdat ons hierdie tussen-in stappe nie raaksien en aktief daaraan aandag gee nie, besef ons nie hoe maklik hulle ons pootjie en goeie voornemens laat misluk nie." 
Vandag hervat ek dus met hierdie beloofde tussen-in stappe. Ek vertrou dit maak nie net ons skema'tjie volledig nie, maar help julle wat julle kinders (of julleself!) wil leer oefen om hul 'dink-koppies' reg te gebruik, ook met meer instrumente in jul hand.

Tussen nrs 1 en 2 
Ons sê maar dit is nr 1 ½ = Die Waarheids-TOETS.
Toets eers daardie gedagte. Is dit régtig waar?  Eers dan mag ek dit as waar aanvaar, en dit glo.

Het ek God lief? Ja? Hoe posisioneer ek my dan ten opsigte van die waarheid?

Dit is 'n vraag wat ons onsself móét afvra en waarop 'n baie duidelike antwoord van kardinale belang is. Meer nog. Ons kinders moet van kleinsaf  gevorm word met, soos wat een van ons seuns dit stel, " 'n pássie vir die waarheid".
Ons leef in 'n tyd waarin waarheid relatief geword het. Ons hedendaagse lewens-en wêreld-beskouing redeneer so : "Wat waar is vir jou, is nie noodwendig waar vir my nie. Maar ons albei kan die waarheid beet hê, al is ons menings presies die teenoorgestelde van mekaar, want daar is nie net een, uiteindelike (ultimate) waarheid nie."
Onthou om jouself en jou kinders in hierdie klimaat voortdurend te herinner aan die eeue-oue Bybelse beginsel : Waarheid gaan bo en buitekant die mens uit (transendeer ons). Die gevalle, sondige mens het nie 'n natuurlike liefde vir die waarheid nie, maar eerder 'n diepgewortelde haat vir die waarheid/liefde vir die leuen.

Waar laat dit ons as gelowiges ten opsigte van die waarheid? In ons nuwe lewe in Christus. Vir ons geld vervolgens 'n nuwe beginsel : Liefde vir God en liefde vir die waarheid gaan hand aan hand. 
Is dit 'n gedagte waarmee ons kinders en jongmense vertroud is, omdat hulle dit van moedersmelk af inkry? Ek betwyfel dit, want ek sien nie baie wat 'n passie het vir die waarheid en dit met ywer soek nie.

Hoe begin ons leuens glo as die waarheid, sonder om dit te besef?
Wanneer ons nie elke gedagte wat ons glo, toets nie!

Hoe weet ek wanneer ek by die waarheid is? Wat verstaan ons onder "waarheid"?
Eerstens, het ons die waarheid van die Bybel. Dit word nie bevraagteken nie, maar aanvaar en gehoorsaam. Daarom moet ons kennis hê van die Bybel. (Leer ons ons kinders om die Bybel elke jaar een maal deur te lees? Nie? Dan raak dit tyd om te begin!)
Die Woord is waar, en
Jesus, die mens-geworde Woord, IS die waarheid, en
Sy Gees, die Heilige Gees, is 'n Gees van waarheid. Hy leer en lei ons in die waarheid, en
'n Bybel-getroue gemeente/kerk met suiwer Woordverkondiging is 'n draer en beskermer van die waarheid. Die gemeenskap van sulke gelowiges skep 'n noodsaaklike kontrole vir waarheidsgetuienis en -instandhouding.
Gods Woord is dus ons maatstaf en die enigste onfeilbare Bron van waarheid, waarmee ons ons voortdurend moet besig hou en ons gedagtes mee moet vul. Dit is die enigste manier waarop ons denke deur die Heilige Gees vernuwe kan word om die goeie en volmaakte wil van God te onderskei en te ken.

Tweedens, soek ons na die waarheid in objektiewe feite en omstandighede.
Byvoorbeeld : 'Wat het régtig gebeur?'
Vra vrae en kontroleer/toets d werklikheids-getrouheid van 'n idee of berig oor wat gebeur het. Ons kan nie bekostig om ons eie idees te huisves oor 'n situasie of gebeurlikheid, wat ons gekonstrueer het met 'n mengsel van onwaarhede en halwe waarhede nie. Ek moet seker maak dat ek dit as waar kan aanvaar, voordat ek met my interpretasie van 'n saak begin werk.
Al veroorsaak dit pyn of ongemak? Ja, al veroorsaak dit pyn of ongemak. Want my liefde vir die waarheid is meer diepgewortel as my liefde vir my eie aannames en idees en oortuigings. My liefde vir die waarheid en my liefde vir God gaan mos hand aan hand.

Derdens, moet die Woord se waarhede TOEGEPAS word in daardie feitelike omstandighede of situasies. Of anders gestel : Die gebeure moet ondersoek en geïnterpreteer word in die lig van God se Woord. Eers dan kan ek dit evalueer en besluit of en watter soort korreksies aangebring behoort te word.
Met ander woorde, ons moet nie net die Woord intellektuéél ken nie, al begin ons daar. Ons moet dit laat práát met 'n lewenspraktyk wat die toets van die werklikheid deurstaan het.

Tussen nrs 2 en 3
Ons noem dit maar 2 ½ = Die WIL.

 Ek noem dit My 'WILs-deurtjie'.




Hy het nie 'n outomatiese stelling nie.

             Hy het ook nie 'n onmoontlike slot nie.                       




Ek moet hom vry-WIL- lig oopstoot  
en daardeur ingaan, of hy bly toe.  






                                                                                                                


Matthew Henry verwys in sy kommentaar op Rom 1:2 na die krag van die wil as "that absolute despotic power which the will has over the body and all its members".
Doen ons altyd wat ons gló goed en waar is? Nee.
Gebruik ek my wil altyd om wat ek gló vir my goed is, te doen? Nee.

Ons ly tot 'n baie groter mate as wat ons besef, aan passiwiteit in ons denke en gedrag. Die wil(-skrag) ontbreek/word nie gebruik nie, om aktief toe te tree tot gesonde denkprosesse wat die waarheid soek, en wat dit dan implimenteer in 'n gesonde, godvrugtige leefstyl.

Hoe lyk ons vollediger skema dus nou?

1      =  GEDAGTES 
1 ½  =  Die TOETS vir die waarheid van hierdie gedagtes 
2      =  GLO dat die idee/gedagte waar is
2 ½  =  WIL aktief raak en dit implimenteer
3       =  DOEN dit wat ek glo waar is
                                                                                
Wanneer ek die twee tussen-in, meer  BEWUSTE stappe uitlaat, nl die TOETS en die WIL,
verloop die proses so te sê OUTOMATIES : wat ek dink, aanvaar ek as waar, en dit word 'n optrede/daad. So ontwikkel 'n leefwyse wat deurvleg is met goed wat ek glo, wat nie noodwendig waar is nie, wat halwe waarhede bevat, maar wat my optrede deurslaggewend bepaal. 
Ek moet hierdie outomatiese en destruktiewe proses WIL omkeer en die gepaardgaande moeite WIL doen, voordat dit sal verander.

Hoe nou verstaan? Kan ek iets daaraan doen wanneer dit God alleen is wat daardie iets in my tot stand kan bring?
Ja. Die opdragte van die Bybel en my gehoorsaamheid daaraan is onontkombaar. Ek moet 'my deel' doen, en dit is om die genade-middele wat Hy aan my beskikbaar gestel het, te gebruik.
Wat is hierdie genade-middele? Daar is baie middele waardeur die Here wil werk en wat Hy tot ons beskikking stel, maar in aansluiting by ons tema wil ek hier net verwys na die volgende.
Die beheer van my denk-prosesse in my brein, as die beheersentrum van my liggaam en al my fakulteite, is byvoorbeeld 'n genade-middel wat ek ontvang het. Ek moet dit gebruik!
'n Gelowige, toegewyde ouer wat haar/sy kinders wil grootmaak vir die Here, is 'n genade-middel van die Here in hul lewens. Ek moet dit gebruik tot hul siele-heil!

Ek kan nie die wedergeboorte van my kind se hart bewerkstellig nie; ek kan sy hart voed met alles wat hy nodig het om te weet van dié God wat 'n hart van klip kan opwek tot 'n hart van vleis en bloed wat Hom kan liefhê.
Ek kan nie my kind se ou sondige natuur vernietig nie; ek kan hom bekendstel aan die kruis van Jesus waar daardie natuur vasgespyker kan word.
Ek kan nie my kind se talente skep nie; ek kan hom help om sy talente in 'n rigting te ontwikkel wat geestelik opbou en die Skepper daarvan verheerlik.
Ek kan nie sy voorkeure en natuurlike aptyt bepaal nie; ek kan vaardig raak in planne om sy natuurlike smake te omvorm deur nuwe aptyte te oefen, totdat dit wat goed is vir hom en wat vir God aanneemlik is,
ook vir hom bekend en bemind raak.
Ek kan nie sy uiteindelike lewensstyl bepaal nie, maar ek kan hom voorstel aan die standaarde van die Bybel en vir hom illustreer hoe om dit as riglyne te gebruik om 'n leefstyl te stileer volgens die eise van Gods Woord. So leer ons om eerbaar te leef, in respek vir God, in Wie se teenwoordigheid ons bestaan.
So laat ons ons natuurlike geneigdhede en voorliefdes verskuif van wat wêrelds en self-gesentreerd en eie-willig is, na wat God wil en Hom behaag. So groei ons in heiligheid en begrip van die dinge waarmee ons ons denke moet vul.

Om Matthew Henry weer aan te haal, in aansluiting by Rom 12:1&2 wat sê, "Gee julleself as lewende, heilige offers... Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe..."

                                             It must be a free-will offering....
Lay your souls under the changing transforming influences of the blessed Spirit; 
seek unto God for grace in the use of all the means of grace. 
Though the new man be created of God, yet we must put it on (Eph 4:24).  

Misluk ons goeie voornemens al te dikwels? Kom ons gaan kyk dan watter stap(-pe) het nog nooit genoeg aandag gekry nie, en begin hulle oefen. Ons durf hulle nie toelaat om ons aanhoudend te pootjie nie. Laat ons dan met groter moed en daadkrag toetree tot die hoë roeping en uitdaging om onsself vry-wil-lig te offer en om ons denke voortdurend te vernuwe onder die kragtige hand van God, met die waarheid as vaandel van lig wat ons lei.





Wednesday, 13 August 2014

Kleipotte Breek


Haar naam is Palaza. Sy’s 'n ma, 'n tuinwerker, 'n ongeletterde, ongeskoolde arbeider in ons diens in die beginjare van ons huwelikslewe. Sy werk in ons tuin, verrimpel deur die Afrika-son en verweer in wind en weer. Ons oudste, vroeg-vroeg stewig op sy twee beentjies, hardloop gou buite rond en 'n geswore vriendskap ontwikkel tussen die twee. So word Palaza ‘Patatta’.
Sy ken die veld en die krag van die elemente. Sy ken die gevare van insekte en wilde diere en sy ken die noodsaak en skaarste van water en kos. Sy ken gras en hout en klei en gebreide velle, en verstaan hoe om dit in mandjies, kommetjies, bakke, speelgoed en klere-afskortings of komberse te verwerk. Maar plastiek en yster en glas is nie deel van haar ervarings-wêreld nie. Sy kan dit nie waardeer nie en sy stel nie belang om dit op te pas nie. Gevolglik word ons sterk plastiek-gieter soos sagte klei in haar hande. In plaas van 'n gemaklike sproei-reëntjie wat voor uit die tuit uitspuit om dorstige plante te voed, stroom water teen onbeheersde spoed uit elke skeur en gat wat reg rondom die gieter sigbaar word. 
Ons seuntjie klap vreugdevol sy hande voor dié waterryke ervaring. 
Ons staan verstom... “Hoe is dit moontlik??”  
Haar antwoord : “Daardie klein gaatjies beteken niks. Die plante ly droogte. Hulle soek baie meer kos.”  

En so word Palaza 'n simbool in ons huis, van die noodsaak en die sin van gebrokenheid in 'n onvolmaakte, sonde-vervloekte wêreld.

Die afgelope  dae het ek myself weer eens gesien in Palaza se gieter. Meer as drie weke gelede moes ek 'n beenoperasie ondergaan waar sekere senings terug geheg is aan die heupbeen. 'n Kort sinnetjie met gelade inhoud, want daar sit ek nou met nog 'n duidelike bars in my lewens-gieter. Die pad na algehele herstel lyk nog lank en steil en riskant. Miskien kry my gieter daarop nog 'n paar gate by.
Maak dit saak? Nee. 
Het dit sin?  Ja. 
AS ek kan volhard, en dit gelowig end-uit doen, met my oë gevestig op Jesus. 
Het dit sin om deur énige dal van beproewing of aanvegting te gaan? Ja. 
AS die beeld van Jesus sigbaar kan word deur daardie barste en Sy krag daardeur na ander kan vloei.

My vriendin, Johannet, kon met Palaza se verhaal identifiseer. Sy vertoon self ook menige krake in haar kleipot. Baie daarvan ken net sy en die Here, waar haar toevlug lê. Party se name ken ek ook : verliese, siekte, disleksia, kerklike afsondering, eensaamheid …
  
Persoonlike, liggaamlike pyn is onmiddellik en bars die klei. 
Emosionele, psigiese en geestelike pyn is eweneens onmiddellik en bring hul eie breuke mee. 
Die laste en beproewings van jou geliefdes is geneig om subtieler krake aan die agterkant van jou kruik te maak waar jy dit die minste verwag en waar die pyn jou onkant betrap. 
Die lyding van gebrokenes wat in jou skoot land, plaas druk, en verweer die ongeskonde dele van jou kleipot sonder toestemming.

Kan jy jou naam by die toepaslike plekke inskryf?

Mettertyd vind ons Palaza-verhaal uitdrukking in Johannet se kreatiwiteit met die volgende illustrasie :








Die inskripsie agterop sê onder andere :

“Hierdie verhaal het my hoop en begrip gegee waarom swaar en seer vir ons nodig is. Ek wil graag hê dat jy dit altyd sal onthou wanneer jy jou gebroke gieter water so gewillig op honger, verlore siele uitstort. Dit het my dors geles. Ek weet nou waar om die Lewende Water te kry. Dankie vir jou bereidheid.”







Paulus gee 'n ander beeld vir 'n soortgelyke waarheid :  
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; 
die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
(2 Kor 4:7)

Nou vra ek maar die vraag vir ons ander kleipotjies, wat ek weer in hierdie dae vir myself vra : 
Wat word deur ons aanvegtings, stryd, beproewings en uitdagings vrygestel? 
'n Vlaag van self-bejammering? Onvergenoegdheid? Innerlike wrokkigheid en verontwaardiging? 
Of word die plek van pyn en stryd die terrein waar die krag en lewe-gewende geur van Jesus vertoon en versprei word?

Ons is almal potte van klei. 
Kleipotte breek maklik. 
Meer nog : kleipotte moet breek. Die barste wys immers wie ek regtig is; maar terselfdertyd stel dit ook die kwaliteit en geur van die inhoud van die kleipot vry :
eie pogings
OF 
die alles-oortreffende krag van God.

Kom saam, Kleipot, en laat ons barste TEL!