Pages

Wednesday, 1 October 2014

God en TYD

Therese vra na die vorige bespreking oor lang tydperke, die volgende :
Ek het wel 'n vraag oor die Skrif wat sê een dag is vir God soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos een dag. Kan dit nie beteken dat God wel oor 'n langer tydperk kon geskep het nie?

Hierdie is 'n legitieme vraag in terme van die wydverspreide aanvaarding in die Christendom onder leiers en leke, van lang tydperke wat met die skepping geïmpliseer is. Vandaar ontstaan die terme ‘teïstiese evolusioniste’ (mense wat tegelyk in God en in evolusie glo) en ‘progressiewe kreasioniste’ (mense wat in die skepping glo maar nie op 'n ‘outydse’ manier nie, eerder op 'n sogenaamd progressiewe/ontwikkelde wyse.)
Dit is gevolglik nodig dat elke Bybel-gelowige hom- of haarself verantwoord oor hul eie posisie, aangesien ons hier te make het met kompromieë tussen evolusie en skepping (iets wat vir konsekwente evolusioniste self onlogies en ondenkbaar voorkom.)
Daar het mettertyd 'n huwelik tot stand gekom tussen wetenskap en godsdiens, ook by name die Christelike godsdiens, agv die geloof dat die Bybel nie 'n ‘wetenskaplike handboek’ is nie en dus deur die wetenskaplike kennis van die dag aangevul moet word vir 'n beter verstaan van die werklikheid. Waar die bevindings en interpretasies tussen dié twee bronne dan oënskynlik verskil, het ‘die wetenskap’ stelselmatig voorkeur begin verkry bo die Bybel.
Die rede?
Die wetenskap verklaar verskynsels met sy 'onomstootlike wetenskaplike teorieë en bewyse’. Dit word aanvaar as genoegsame grond om Bybelse uitsprake te hersien, te korrigeer of te her-interpreteer. Die veronderstelling van so 'n benadering is dat die Bybelskrywers nie genoegsame wetenskaplike kennis gehad het nie en dat die Bybel  nie ten volle geïnspireer is deur die Heilige, Alwetende Gees van God nie.
Die gevolg?
Die aanname ontwikkel dat die WETENSKAP onfeilbaar is, terwyl die Bybel as Woord van God wel feilbaar is.

Dat die mens in sy natuurlike staat en met eie wysheid tot so 'n konklusie kan kom, is nie moeilik om te verstaan nie.
Dat die mens wat as Bybel-gelowige verander is en deur die Heilige Gees ook in sy denke en begrip van God vernuwe is, hierby aanklank vind, raak vir die meeste van ons mense in die geloofsgemeenskap problematies. Waar lê die waarheid nou?
Wie moet ek glo, en waarom? As wat vandag allerweë as 'wetenskaplike sekerheid' aanvaar word, more waarskynlik as uitgediende teorieë gaan geld in die lig van nuwe navorsing, volgens die bekende verloop van wetenskaplike geskiedenis, watter waarborge is daar vir vloeibare wetenskaplike kennis of bewyse? Hoe kan ek my kinders met sekerheid lei in so 'n verwarrende situasie?
As Genesis 1 se uitsprake her-interpreteer moet word, wat dan van die res van die Bybel?

Die teks waarna in ons vraag verwys word, staan in 2 Pet 3:8.
Let op na twee sake in hierdie argument :  
1. Net een helfte van die teks word in hierdie vraag se veronderstelde argument gebruik :
'n Dag is vir God SOOS 'n duisend jaar.” ('n Regte, letterlike dag en 'n regte, letterlike duisend jaar word hier met mekaar vergelyk. Die teks sê NIE 'n dag IS 'n duisend jaar nie, maar SOOS 'n duisend jaar vir God.)
Maar die omgekeerde is net so waar van Hom : “'n Duisend jaar is SOOS 'n dag vir God.”
Vir diegene wat hier 'n dag wil gelykstel met 'n duisend jaar, moet die teenoorgestelde dus ook geld : 'n duisend jaar sou dan ook gelykgestel moes word aan 'n dag. Die een stelling kanselleer logies die ander een uit, of veronderstel die ander een logies.
Dit herinner ook aan die uitspraak in Ps 90:4: "'n Duisend jaar is vir U soos gister, of soos een enkele wagbeurt (= 4 ure) in die nag."
Maar onthou nou, dis nie 'n stelling nie, dis net 'n vergelyking.
Met die oog waarop?
Om aan ons te verduidelik dat God nie beperk of beïnvloed word deur natuurlike prosesse in die TYD soos ons nie. Hy is met die SAAK, met Sy soewereine plan, besig en voer dit uit, ongeag van hoe ons dit in die tyd beleef of daaroor voel. Sy plan het hier te make met die redding van mense (HER-SKEPPING) en nie met die oorspronklike SKEPPING nie.

2. Die KONTEKS van hierdie bekende uitspraak van Petrus word normaalweg nie bereken wanneer dit aangehaal word nie. Dit is naamlik  NIE die skepping nie, maar wel die wederkoms van Christus, en wie dan daarvoor gereed gaan wees, waaroor dit hier gaan.

In dié betrokke konteks sê Petrus dus dat God (wat ons weet ewig is) buitekant TYD staan. Wat vir ons voel  soos 'n dag (kort TYD) of soos 'n duisend jaar (lang TYD), watter kant toe ook al, het nie betrekking op God nie en is niks vir Hom nie. Of dit dus kort of lank voel vir ons, ons moet die TYD wat ons wel het, kort of lank, UITKOOP om gereed te wees vir Sy koms en nie die heerlikheid van 'n ewigheid in Sy lieflike teenwoordigheid misloop nie!

Interessant genoeg was die omgekeerde probleem in die vroeër kerkgeskiedenis teenwoordig, nl dat mense gesê het hulle kan nie glo God het so LANK geneem soos 6 dae om alles te skep nie!
Let op Martin Luther se antwoord vir hulle, en ek vertaal vry :
“As Moses skryf dat God in ses dae die hemel en aarde en alles daarin geskape het, laat hierdie periode dan toe om steeds ses dae te wees. Moenie probeer om argumente te ontwikkel waarvolgens ses dae dan een dag word nie. Maar as jy nie kan verstaan hoe dit in sés dae moes gedoen word nie, gee dan ten minste vir die Heilige Gees die eer om meer geleerd te wees as jy. Want jy moet met die Skrif omgaan op so 'n wyse, dat jy onthou God sê Self wat geskryf moet word. En aangesien God Self aan die woord is, pas dit jou nie om Sy woord willekeurig te draai in die rigting waarin jy dit graag wil stuur nie.” (‘Six days or millions of years?’  deur Ken Ham, p 11) * 

Om dus Therese se vraag te beantwoord :

Vir God is NIKS onmoontlik nie. (Luk 1:37)
Natuurlik KON Hy oor 'n langer/baie lang tydperk skep – net soos wat Hy oor 'n korter tydperk/binne 'n oomblik kon skep.
Waarom (so lank soos) ses dae, soos ons dit ken?
Die antwoord vind ons in Ex 20:11, as basis van die vierde gebod : In ses dae het God die hemel en aarde en alles daarop gemaak, en op die sewende dag gerus, en daardie dag geheilig en geseën… Sodoende vind 'n 7-dag week sy oorsprong en betekenis in die Woord van God en die skepping.
Ons week word volgens hierdie prinsipe / vergelyking bepaal en bevestig en tot op hierdie dag draai die lewe van die mensdom om 'n 7-dag week.
God het ses letterlike dae gewerk en toe een letterlike dag gerus, as voorbeeld vir die mens om na te volg – nie ses duisend of ses miljoen jare as verteenwoordigend van ses dae nie. Was dit wel sulke lang ‘dae’, hoe sou ons dit kon navolg? Wat se soort ‘week’ sou ons dan hê? Wat sou die implikasie wees vir Adam, wat op ‘Dag’ 6 geskape is, geleef het deur ‘Dag’ 7 en daarna soveel ‘dae’ geleef het soos wat daar in 930 jaar is? (sien Gen 5:5)
Hoe lank sou Jesus in die graf wees volgens hierdie model – 3000 jaar?

Maak dit regtig saak wat ons glo oor die tydperk van die skepping?
Ek glo so, ja, saam met die menige skeppings-wetenskaplikes van ons dag en Bybelgelowiges van baie eeue.
Dit het uiteindelik ook implikasies vir ons hele verstaan van die verlossings-evangelie.
Evolusie-wetenskaplikes beweer dat die fossiel-lae dwarsoor die wêreld terugdateer na honderde miljoene jare gelede. Lank voor die verskyning van die mens, het verskillende laer lewensvorme ontwikkel uit mekaar na hoër lewensvorme, en was daar dus reeds dood, bloedvergieting, siekte, dorings en lyding.
Vir Adam het God egter gesê: As jy ongehoorsaam is en sondig, sal jy sekerlik sterwe... Dood het dus eers ingetree na die skepping en sondeval. Vir die Bybel vind hierdie verskynsels net een enkele oorsaak, nl die sonde.
Die dood kon dus nie (miljoene jare) voor die sondeval bestaan nie.
Net so het Jesus se kruisdood nie daarsonder enige rede of sin of hoop vir sondaars nie.

Ken Ham sê ten regte : "Hierdie idee toon 'n foutiewe benadering tot die Woord van God - asof dit geïnterpreteer kan word op die basis van feilbare teorieë van sondige mense." (p1) *



* Hierdie boekie, Six days or millions of years?, is uitgegee deur Answers in Genesis (www.AnswersInGenesis.org) en dien as basis van hierdie bespreking. Ek vertrou hiermee dat dit duidelik sal word hoe maklik verkrygbaar en beskikbaar antwoorde is op ons vrae en hoe onnodig dit is om oningeligte of eensydige menings te hê of te onderskryf.



No comments:

Post a Comment