In 'n vroeëre post, van 28 Junie, het ek Meline se briefie begin beantwoord oor die onderwerp van Dinosaurusse en die Ystydperk. Haar vriendin se vraag was "hoe dinosaurs en iets soos die 'ice age' in God se skepping inpas as dit miljoene jare gelede was."
Kyk mooi na hierdie vraag. Daar is twee veronderstellings wat albei aanvaar word :
1. God het geskep (in 'n kort tydperk - 6 dae).
2. Dinosaurusse en die ystydperk is bewyse van 'n baie ou aarde met baie lang evoluerings-
prosesse (oor 'n baie lang tyd - miljoene jare).
Omdat die twee stellings wedersyds uitsluitend is, bring dit 'n logiese probleem mee : watter een is nou waar? of waar verstaan ek dit nou nie reg nie? of hoe moet ek nou die twee 'waarhede' versoen kry? *
Ons tweeledige vraag hierbo vra van ons rekenskap tov albei sake :
Eerstens : Het God geskep?
Die antwoord op hierdie vraag is ononderhandelbaar in terme van ons fondament : ons geloof in God en die onfeilbaarheid van die Bybel as foutloos en tydloos waar. (Dit is op sigself 'n studieveld wat nagevors kan word en waarvoor daar reeds baie bewyse geboekstaaf is indien jy een van daardie ondersoekers is wat nodig het om al die bewyse na te gaan voordat jy dit kan glo.) Gen 1 is baie duidelik oor God se skepping. In die begin het God die hemel en die aarde geskape, in 6 dae, geskei van mekaar deur 'en dit was aand en dit was môre, die ...(volgende)...dag.' Die res van die Bybel bevestig dit op baie plekke en maniere, in verskillende kontekste. **
Tweedens : Het dinosaurusse en die ystydperk miljoene jare gelede op die aarde verskyn?
Hierna moet ons ondersoek instel en gefundeerde antwoorde probeer vind met die nodige inligting tot ons beskikking.
Daar is bv baie bewyse van die bestaan van dinosaurusse, met die vele skelette wat reeds opgegrawe is. Hoekom praat die Bybel dan nie van hierdie diere nie?
Die woord 'dinosaurus' is eers so laat in die geskiedenis geskep soos in 1841, deur 'n Britse wetenskaplike met die naam van Richard Owen. Hy het die twee Griekse woorde 'deinos' en 'sauros' saamgevoeg, wat letterlik beteken : 'geweldige / verskriklike akkedis'.
Die Bybel en alle getuienis uit van die oudste en meer resente beskawings, ken wel woorde soos draak, monster en Leviatan. ***
Volgens alle beskrywings en voorstellings daarvan, is dit massiewe, wrede reptiele wat punt vir punt ooreenkom met wat die moderne wetenskap vandag 'dinosaurusse' noem. ****
En dieselfde moderne wetenskaplike navorsing het in resente tye - tot sy eie verleentheid - ontdek dat daar rooibloed-selle in die been van vele dinosaurus-skelette is. Dit beteken dat hulle onmoontlik miljoene jare gelede kon leef, maar saam met die mense op aarde geleef het, en dit nie só lank gelede nie.
Te midde van hierdie onomstootlike bewyse, soek evolusie-wetenskaplikes na ander oorsake, aangesien hulle, volgens hulle eie getuienis, nie kan 'glo' in 'n jong aarde nie.*****
Dit is weer eens 'n bevestiging van die stelling : "Ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek, voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging."
Wat het dan van dinosaurusse geword? Waarom leef hulle nie meer tussen ons as hulle nie 'miljoene jare gelede' reeds uitgesterf het nie? Skeppings-wetenskaplikes vind baie antwoorde op soortgelyke vrae in die verskynsel van 'n wêreld-wye watervloed - wat natuurlik in die Bybel te vind is in die sondvloed, in Noag se tyd. As 'n mens daarin glo, is dit maklik om van daardie feit af na die gegewens op die tafel te gaan kyk en dit in daardie lig te verklaar. *****
Kortliks kom die antwoord van Skeppings-wetenskaplikes daarop neer dat daar skielik geweldige watermassa's tydens die sondvloed vrygestel is. Hierdie water het nie net van bo af neergereën nie, maar het ook vanuit die onderaardse dieptes uitgebars. Dit het vervolgens groot getalle diere, waaronder die dinosaurusse, in 'n kort tydjie meegesleur en onder modderwater begrawe, waar hulle vinnig dood is en kon versteen sonder dat daar vinnige verweer kon plaasvind. Dit verklaar ook die 'massagrafte' op verskillende plekke in die wêreld, asook die besonder goeie preservering van fossiele , selfs in sekere gevalle nog met groen blare in hul bekke of in die geboorte-proses.
Soos wat wetenskaplike kennis eksponensieel toeneem gedurende ons leeftyd, raak dit al hoe duideliker en makliker vir Christen-wetenskaplikes om die geloofwaardigheid van die Bybelse Skeppings-verhaal te verdedig teenoor die spekulasies van die evolusie-teorie.
Is die skeppings-geloof ook 'n teorie? As dit deur ménse uitgedink is, ja.
As dit deur God as feite aan die mens geopenbaar en verkondig word, nee.
Die vraag is : Gló ek dit?
Sal dit my verwysingsraamwerk rigting-gewend beïnvloed?
Sal ek vir myself en my kinders 'n posisie daarin kan vind van waaruit ons die wêreld kan interpreteer?
Ons uitdaging is om intelligent, ingelig en ywerig te wees om andersdenkendes so te ontmoet, dat ons onsself en hulle kan aanmoedig tot dieper soeke na antwoorde en die waarheid.
Die Ystydperk kom 'n volgende keer aan die beurt.
* Ons het in ons vorige praatjie 'n uitgangspunt geformuleer wat vir ons kinders 'n raamwerk kan skep waarbinne hulle onderwerpe soos hierdie kan ondersoek sonder om onnodige gevaar te loop dat hulle hul geloof in die bestaan van die Skepper-God sal kompromiteer of prysgee. Kinders, veral, is baie beïnvloedbaar. Dit is dus nodig dat ons van kleins af vir hulle 'n verwysingsraamwerk skep waarbinne hulle sinvol kan leef en van waaruit hulle die buitewêreld kan bekyk en verwerk.
Sommige mense kan 'n probleem daarmee hê en voel dat dit nie objektief genoeg is vir wetenskaplike ondersoek nie. Die feit van die saak is egter dat alle ondersoeke, insluitend wetenskaplike ondersoeke, uitgaan van wat ons noem voor-veronderstellings. Met ander woorde ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging.
Onthou dus : 'n Voorveronderstelling word altyd gebou op die fondament van 'n geloofs-posisie of -standpunt, en dit skep vir ons die raamwerk waarbinne ons die omringende wêreld benader en interpreteer.
Toegepas op ons onderwerp : Ek glo dat die Bybel waar is en dat die God van die Bybel die Skepper en Onderhouer is van wat Hy geskep het. Met hierdie geloofs-raamwerk as fondament, veronderstel ek sekere dinge as waar/onwaar, en gaan ondersoek ek nou die gegewens tot my beskikking en vra hoe dit inpas in hierdie raamwerk.
*** Bv Ps 74:13&14 en Jes 27:1en Job 40
**** Sien 'Dragons or Dinosaurs? Creation or Evolution? deur Darek Isaacs, pp 15&16
Tanya het na ons eerste praatjie oor hierdie onderwerp die webadres van CMI (Creation
Ministeries International) aanbeveel. Ek gee dit net weer hier.
www.creation.com, asook die volgende 'links' :
http://creation.com/dinosaur-questions-and-answers
http://creation.com/mammoth-riddle-of-the-ice-age
http://creation.com/images/pdfs/cabook/chapter16.pdf
Kyk gerus ook na hulle U-Tube video oor 'The Bible and dinosaurs'.
Kyk gerus ook na hulle U-Tube video oor 'The Bible and dinosaurs'.
***** Om dit nie te glo nie, maak die idee van 'n wêreldwye vloed as deur na antwoorde in die ondersoek tóé, en moet ander torieë en 'bewyse' gevind word om die verskynsels te verklaar.
Die mees aanvaarde maar onbewysbare 'bewys', is die geloof in lang tydperke/lang TYD. 'Miljoene jare gelede' is nie 'n konsep wat bewysbaar of ondersoekbaar of wetenskaplik navorsbaar is nie.
Dit gaan nie in die Skeppings-Evolusie-debat oor godsdiens teenoor wetenskap nie, maar wel oor een geloofsoortuiging teenoor 'n ander.
Evolusie en lang tydperke/miljoene jare is 'n teorie wat deur mense uitgedink is en wat aanvaar moet word as iets waarin jy glo, sodat gegewens wat nie op 'n ander manier verklaar kan word nie, daarin geplaas en geïnterpreteer kan word. Die bewyse wat aangevoer word, mag oortuigend klink vir onnadenkende en oningeligte mense, en word aanvaar deur vele denkende, ingeligte natuur-wetenskaplikes, nie op grond van die oortuigingskrag van die bewyse nie, maar op grond van die geloofs-raamwerk van waaruit hulle werk. Vandaar die opkoms van die Evolusie-teorie oor die afgelope eeu, as 'wetenskaplike' model.
No comments:
Post a Comment