Pages

Wednesday, 13 August 2014

Kleipotte Breek


Haar naam is Palaza. Sy’s 'n ma, 'n tuinwerker, 'n ongeletterde, ongeskoolde arbeider in ons diens in die beginjare van ons huwelikslewe. Sy werk in ons tuin, verrimpel deur die Afrika-son en verweer in wind en weer. Ons oudste, vroeg-vroeg stewig op sy twee beentjies, hardloop gou buite rond en 'n geswore vriendskap ontwikkel tussen die twee. So word Palaza ‘Patatta’.
Sy ken die veld en die krag van die elemente. Sy ken die gevare van insekte en wilde diere en sy ken die noodsaak en skaarste van water en kos. Sy ken gras en hout en klei en gebreide velle, en verstaan hoe om dit in mandjies, kommetjies, bakke, speelgoed en klere-afskortings of komberse te verwerk. Maar plastiek en yster en glas is nie deel van haar ervarings-wêreld nie. Sy kan dit nie waardeer nie en sy stel nie belang om dit op te pas nie. Gevolglik word ons sterk plastiek-gieter soos sagte klei in haar hande. In plaas van 'n gemaklike sproei-reëntjie wat voor uit die tuit uitspuit om dorstige plante te voed, stroom water teen onbeheersde spoed uit elke skeur en gat wat reg rondom die gieter sigbaar word. 
Ons seuntjie klap vreugdevol sy hande voor dié waterryke ervaring. 
Ons staan verstom... “Hoe is dit moontlik??”  
Haar antwoord : “Daardie klein gaatjies beteken niks. Die plante ly droogte. Hulle soek baie meer kos.”  

En so word Palaza 'n simbool in ons huis, van die noodsaak en die sin van gebrokenheid in 'n onvolmaakte, sonde-vervloekte wêreld.

Die afgelope  dae het ek myself weer eens gesien in Palaza se gieter. Meer as drie weke gelede moes ek 'n beenoperasie ondergaan waar sekere senings terug geheg is aan die heupbeen. 'n Kort sinnetjie met gelade inhoud, want daar sit ek nou met nog 'n duidelike bars in my lewens-gieter. Die pad na algehele herstel lyk nog lank en steil en riskant. Miskien kry my gieter daarop nog 'n paar gate by.
Maak dit saak? Nee. 
Het dit sin?  Ja. 
AS ek kan volhard, en dit gelowig end-uit doen, met my oë gevestig op Jesus. 
Het dit sin om deur énige dal van beproewing of aanvegting te gaan? Ja. 
AS die beeld van Jesus sigbaar kan word deur daardie barste en Sy krag daardeur na ander kan vloei.

My vriendin, Johannet, kon met Palaza se verhaal identifiseer. Sy vertoon self ook menige krake in haar kleipot. Baie daarvan ken net sy en die Here, waar haar toevlug lê. Party se name ken ek ook : verliese, siekte, disleksia, kerklike afsondering, eensaamheid …
  
Persoonlike, liggaamlike pyn is onmiddellik en bars die klei. 
Emosionele, psigiese en geestelike pyn is eweneens onmiddellik en bring hul eie breuke mee. 
Die laste en beproewings van jou geliefdes is geneig om subtieler krake aan die agterkant van jou kruik te maak waar jy dit die minste verwag en waar die pyn jou onkant betrap. 
Die lyding van gebrokenes wat in jou skoot land, plaas druk, en verweer die ongeskonde dele van jou kleipot sonder toestemming.

Kan jy jou naam by die toepaslike plekke inskryf?

Mettertyd vind ons Palaza-verhaal uitdrukking in Johannet se kreatiwiteit met die volgende illustrasie :








Die inskripsie agterop sê onder andere :

“Hierdie verhaal het my hoop en begrip gegee waarom swaar en seer vir ons nodig is. Ek wil graag hê dat jy dit altyd sal onthou wanneer jy jou gebroke gieter water so gewillig op honger, verlore siele uitstort. Dit het my dors geles. Ek weet nou waar om die Lewende Water te kry. Dankie vir jou bereidheid.”







Paulus gee 'n ander beeld vir 'n soortgelyke waarheid :  
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; 
die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
(2 Kor 4:7)

Nou vra ek maar die vraag vir ons ander kleipotjies, wat ek weer in hierdie dae vir myself vra : 
Wat word deur ons aanvegtings, stryd, beproewings en uitdagings vrygestel? 
'n Vlaag van self-bejammering? Onvergenoegdheid? Innerlike wrokkigheid en verontwaardiging? 
Of word die plek van pyn en stryd die terrein waar die krag en lewe-gewende geur van Jesus vertoon en versprei word?

Ons is almal potte van klei. 
Kleipotte breek maklik. 
Meer nog : kleipotte moet breek. Die barste wys immers wie ek regtig is; maar terselfdertyd stel dit ook die kwaliteit en geur van die inhoud van die kleipot vry :
eie pogings
OF 
die alles-oortreffende krag van God.

Kom saam, Kleipot, en laat ons barste TEL!




4 comments:

  1. Dit was vir my so goed om te lees! Mens kyk soms na mense en dink hulle lyk so "holy"... En vergelyk jouself met hulle! En as ek so iets lees kry ek moed, nie oor ander se swaar kry nie maar oor ek sien dat ons almal sukkel en ons almal het die Here Jesus nodig in ons lewe!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ja. Ons leef in 'n kultuur van oppervlakkigheid en die omkeer van waardes. Niks is meer 'privaat' nie - veral by julle jongmense. Facebook en ander openbare sosiale netwerke is enersyds die kommunikasie-kanale en is daar vir almal se insae en toegang. Maar andersyds hou ons stewige fronte voor ons innerlike belewenisse van swakheid en stryd. Vrese en kwellinge en gesprekke oor wesenlike sake word agter ondeursigtigee harts-mure weggesteek - vir ingeval ander slegter van ons sal dink...
      Dit staan in sterk kontras met die Bybelse voorstelling van 'bely julle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word' en 'leef in die lig/waarheid, sodat julle in dieselfde gemeenskap deel kan hê' Jak en Joh). Niemand van ons is 'holy' nie, hoogstens kan ons 'n skyn van heiligheid voorhou. Dis wanneer ons (God-dank!) inge-BREEK word, dat ons dit nie langer kan voorhou nie en na Jesus se heiligheid soek.

      Delete
  2. Wat beteken dit "om ons sondes teenoor mekaar te bely"? En wie is die "mekaar"?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek dink hierdie twee vrae is so belangrik en het betrekking op sovele van ons, dat ek jou graag sal wil antwoord in 'n volledige post, as dit reg is met jou?
      Julle vroutjies bemoedig my met sulke soort bydraes! Om intelligent te lees en te respondeer, kry enige smeulende kooltjie aan die brand geblaas!

      Delete