Pages

Sunday, 31 August 2014

Dinosourusse : miljoene jare gelede? (2)


In 'n vroeëre post, van 28 Junie, het ek Meline se briefie begin beantwoord oor die onderwerp van Dinosaurusse en die Ystydperk. Haar vriendin se vraag was "hoe dinosaurs en iets soos die 'ice age' in God se skepping inpas as dit miljoene jare gelede was."

Kyk mooi na hierdie vraag. Daar is twee veronderstellings wat albei aanvaar word : 
1. God het geskep (in 'n kort tydperk - 6 dae). 
2. Dinosaurusse en die ystydperk is bewyse van 'n baie ou aarde met baie lang evoluerings-
    prosesse (oor 'n baie lang tyd - miljoene jare).

Omdat die twee stellings wedersyds uitsluitend is, bring dit 'n logiese probleem mee : watter een is nou waar? of waar verstaan ek dit nou nie reg nie? of hoe moet ek nou die twee 'waarhede' versoen kry? *

Ons tweeledige vraag hierbo vra van ons rekenskap tov albei sake :

Eerstens : Het God geskep?  
Die antwoord op hierdie vraag is ononderhandelbaar in terme van ons fondament : ons geloof in God en die onfeilbaarheid van die Bybel as foutloos en tydloos waar. (Dit is op sigself 'n studieveld wat nagevors kan word en waarvoor daar reeds baie bewyse geboekstaaf is indien jy een van daardie ondersoekers is wat nodig het om al die bewyse na te gaan voordat jy dit kan glo.) Gen 1 is baie duidelik oor God se skepping. In die begin het God die hemel en die aarde geskape, in 6 dae, geskei van mekaar deur 'en dit was aand en dit was môre, die ...(volgende)...dag.' Die res van die Bybel bevestig dit op baie plekke en maniere, in verskillende kontekste. **

Tweedens : Het dinosaurusse en die ystydperk miljoene jare gelede op die aarde verskyn?
Hierna moet ons ondersoek instel en gefundeerde antwoorde probeer vind met die nodige inligting tot ons beskikking.
 Daar is bv baie bewyse van die bestaan van dinosaurusse, met die vele skelette wat reeds opgegrawe is. Hoekom praat die Bybel dan nie van hierdie diere nie? 
Die woord 'dinosaurus' is eers so laat in die geskiedenis geskep soos in 1841, deur 'n Britse wetenskaplike met die naam van Richard Owen. Hy het die twee Griekse woorde 'deinos' en 'sauros' saamgevoeg, wat letterlik beteken : 'geweldige / verskriklike akkedis'.
Die Bybel en alle getuienis uit van die oudste en meer resente beskawings, ken wel woorde soos draak, monster en Leviatan. *** 
Volgens alle beskrywings en voorstellings daarvan, is dit massiewe, wrede reptiele wat punt vir punt ooreenkom met wat die moderne wetenskap vandag 'dinosaurusse' noem. ****
En dieselfde moderne wetenskaplike navorsing het in resente tye - tot sy eie verleentheid - ontdek dat daar rooibloed-selle in die been van vele dinosaurus-skelette is. Dit beteken dat hulle onmoontlik miljoene jare gelede kon leef, maar saam met die mense op aarde geleef het, en dit nie só lank gelede nie.

Te midde van hierdie onomstootlike bewyse, soek evolusie-wetenskaplikes na ander oorsake, aangesien hulle, volgens hulle eie getuienis, nie kan 'glo' in 'n jong aarde nie.*****  
Dit is weer eens 'n bevestiging van die stelling : "Ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek, voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging."

Wat het dan van dinosaurusse geword? Waarom leef hulle nie meer tussen ons as hulle nie 'miljoene jare gelede' reeds uitgesterf het nie? Skeppings-wetenskaplikes vind baie antwoorde op soortgelyke vrae in die verskynsel van 'n wêreld-wye watervloed - wat natuurlik in die Bybel te vind is in die sondvloed, in Noag se tyd. As 'n mens daarin glo, is dit maklik om van daardie feit af na die gegewens op die tafel te gaan kyk en dit in daardie lig te verklaar. *****
Kortliks kom die antwoord van Skeppings-wetenskaplikes daarop neer dat daar skielik geweldige watermassa's tydens die sondvloed vrygestel is. Hierdie water het nie net van bo af neergereën nie, maar het ook vanuit die onderaardse dieptes uitgebars. Dit het vervolgens groot getalle diere, waaronder die dinosaurusse, in 'n kort tydjie meegesleur en onder modderwater begrawe, waar hulle vinnig dood is en kon versteen sonder dat daar vinnige verweer kon plaasvind. Dit verklaar ook die 'massagrafte' op verskillende plekke in die wêreld, asook die besonder goeie preservering van fossiele , selfs in sekere gevalle nog met groen blare in hul bekke of in die geboorte-proses.


Soos wat wetenskaplike kennis eksponensieel toeneem gedurende ons leeftyd, raak dit al hoe duideliker en makliker vir Christen-wetenskaplikes om die geloofwaardigheid van die Bybelse Skeppings-verhaal te verdedig teenoor die spekulasies van die evolusie-teorie.  

Is die skeppings-geloof ook 'n teorie? As dit deur ménse uitgedink is, ja.
As dit deur God as feite aan die mens geopenbaar en verkondig word, nee.

Die vraag is : Gló ek dit? 
Sal dit my verwysingsraamwerk rigting-gewend beïnvloed? 
Sal ek vir myself en my kinders 'n posisie daarin kan vind van waaruit ons die wêreld kan interpreteer? 
Ons uitdaging is om intelligent, ingelig en ywerig te wees om andersdenkendes so te ontmoet, dat ons onsself en hulle kan aanmoedig tot dieper soeke na antwoorde en die waarheid. 

Die Ystydperk kom 'n volgende keer aan die beurt.



Ons het in ons vorige praatjie 'n uitgangspunt geformuleer wat vir ons kinders 'n raamwerk kan skep waarbinne hulle onderwerpe soos hierdie kan ondersoek sonder om onnodige gevaar te loop dat hulle hul geloof in die bestaan van die Skepper-God sal kompromiteer of prysgee. Kinders, veral, is baie beïnvloedbaar. Dit is dus nodig dat ons van kleins af vir hulle 'n verwysingsraamwerk skep waarbinne hulle sinvol kan leef en van waaruit hulle die buitewêreld kan bekyk en verwerk. 
Sommige mense kan 'n probleem daarmee hê en voel dat dit nie objektief genoeg is vir wetenskaplike ondersoek nie. Die feit van die saak is egter dat alle ondersoeke, insluitend wetenskaplike ondersoeke, uitgaan van wat ons noem voor-veronderstellings. Met ander woorde ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging
Onthou dus : 'n Voorveronderstelling word altyd gebou op die fondament van 'n geloofs-posisie of -standpunt, en dit skep vir ons die raamwerk waarbinne ons die omringende wêreld benader en interpreteer.
Toegepas op ons onderwerp : Ek glo dat die Bybel waar is en dat die God van die Bybel die Skepper en Onderhouer is van wat Hy geskep het. Met hierdie geloofs-raamwerk as fondamentveronderstel ek sekere dinge as waar/onwaar, en gaan ondersoek ek nou die gegewens tot my beskikking en vra hoe dit inpas in hierdie raamwerk.

**     Bv. Ps 19:2 & Ps 104; Jer 10:12 & 51:15-19; Rom 1:20; Joh 1:2&3; Heb 11:3
***    Bv Ps 74:13&14 en Jes 27:1en Job 40
****  Sien 'Dragons or Dinosaurs? Creation or Evolution? deur Darek Isaacs, pp 15&16
       Tanya het na ons eerste praatjie oor hierdie onderwerp die webadres van CMI (Creation
       Ministeries International aanbeveel. Ek gee dit net weer hier.
      www.creation.com, asook die volgende 'links' :
      http://creation.com/dinosaur-questions-and-answers
       http://creation.com/mammoth-riddle-of-the-ice-age
       http://creation.com/images/pdfs/cabook/chapter16.pdf
      Kyk gerus ook na hulle U-Tube video oor 'The Bible and dinosaurs'.

***** Om dit nie te glo nie, maak die idee van 'n wêreldwye vloed as deur na antwoorde in die ondersoek tóé, en moet ander torieë en 'bewyse' gevind word om die verskynsels te verklaar. 
Die mees aanvaarde maar onbewysbare 'bewys', is die geloof in lang tydperke/lang TYD. 'Miljoene jare gelede' is nie 'n konsep wat bewysbaar of ondersoekbaar of wetenskaplik navorsbaar is nie. 
Dit gaan nie in die Skeppings-Evolusie-debat oor godsdiens teenoor wetenskap nie, maar wel oor een geloofsoortuiging teenoor 'n ander.
Evolusie en lang tydperke/miljoene jare is 'n teorie wat deur mense uitgedink is en wat aanvaar moet word as iets waarin jy glo, sodat gegewens wat nie op 'n ander manier verklaar kan word nie, daarin geplaas en geïnterpreteer kan word. Die bewyse wat aangevoer word, mag oortuigend klink vir onnadenkende en oningeligte mense, en word aanvaar deur vele denkende, ingeligte natuur-wetenskaplikes, nie op grond van die oortuigingskrag van die bewyse nie, maar op grond van die geloofs-raamwerk van waaruit hulle werk. Vandaar die opkoms van die Evolusie-teorie oor die afgelope eeu, as 'wetenskaplike' model.




Friday, 22 August 2014

Wees versigtig en paraat met jou denke (3)

In ons vorige aflewering oor die belangrikheid daarvan om ons denke te beheer en te oefen, het ons skema'tjie oor die drie hoofstappe so gelyk :
(1) GEDAGTES  lei tot iets wat ek
(2) GLO.  Ek glo dit net omdat ek van mening is dat dit WAAR is. Niemand glo immers iets wat hy meen 'n leuen is nie. En hierdie geloof lei tot iets wat ek op grond daarvan
(3) IS/DOEN.
Ek het die artikel afgesluit met die opmerking : "Tussen die drie hoofstappe, naamlik tussen stappe 1 en 2, en tussen stappe 2 en 3, is daar telkens 'n stap wat ons maklik miskyk, maar wat aandag moet kry. Omdat ons hierdie tussen-in stappe nie raaksien en aktief daaraan aandag gee nie, besef ons nie hoe maklik hulle ons pootjie en goeie voornemens laat misluk nie." 
Vandag hervat ek dus met hierdie beloofde tussen-in stappe. Ek vertrou dit maak nie net ons skema'tjie volledig nie, maar help julle wat julle kinders (of julleself!) wil leer oefen om hul 'dink-koppies' reg te gebruik, ook met meer instrumente in jul hand.

Tussen nrs 1 en 2 
Ons sê maar dit is nr 1 ½ = Die Waarheids-TOETS.
Toets eers daardie gedagte. Is dit régtig waar?  Eers dan mag ek dit as waar aanvaar, en dit glo.

Het ek God lief? Ja? Hoe posisioneer ek my dan ten opsigte van die waarheid?

Dit is 'n vraag wat ons onsself móét afvra en waarop 'n baie duidelike antwoord van kardinale belang is. Meer nog. Ons kinders moet van kleinsaf  gevorm word met, soos wat een van ons seuns dit stel, " 'n pássie vir die waarheid".
Ons leef in 'n tyd waarin waarheid relatief geword het. Ons hedendaagse lewens-en wêreld-beskouing redeneer so : "Wat waar is vir jou, is nie noodwendig waar vir my nie. Maar ons albei kan die waarheid beet hê, al is ons menings presies die teenoorgestelde van mekaar, want daar is nie net een, uiteindelike (ultimate) waarheid nie."
Onthou om jouself en jou kinders in hierdie klimaat voortdurend te herinner aan die eeue-oue Bybelse beginsel : Waarheid gaan bo en buitekant die mens uit (transendeer ons). Die gevalle, sondige mens het nie 'n natuurlike liefde vir die waarheid nie, maar eerder 'n diepgewortelde haat vir die waarheid/liefde vir die leuen.

Waar laat dit ons as gelowiges ten opsigte van die waarheid? In ons nuwe lewe in Christus. Vir ons geld vervolgens 'n nuwe beginsel : Liefde vir God en liefde vir die waarheid gaan hand aan hand. 
Is dit 'n gedagte waarmee ons kinders en jongmense vertroud is, omdat hulle dit van moedersmelk af inkry? Ek betwyfel dit, want ek sien nie baie wat 'n passie het vir die waarheid en dit met ywer soek nie.

Hoe begin ons leuens glo as die waarheid, sonder om dit te besef?
Wanneer ons nie elke gedagte wat ons glo, toets nie!

Hoe weet ek wanneer ek by die waarheid is? Wat verstaan ons onder "waarheid"?
Eerstens, het ons die waarheid van die Bybel. Dit word nie bevraagteken nie, maar aanvaar en gehoorsaam. Daarom moet ons kennis hê van die Bybel. (Leer ons ons kinders om die Bybel elke jaar een maal deur te lees? Nie? Dan raak dit tyd om te begin!)
Die Woord is waar, en
Jesus, die mens-geworde Woord, IS die waarheid, en
Sy Gees, die Heilige Gees, is 'n Gees van waarheid. Hy leer en lei ons in die waarheid, en
'n Bybel-getroue gemeente/kerk met suiwer Woordverkondiging is 'n draer en beskermer van die waarheid. Die gemeenskap van sulke gelowiges skep 'n noodsaaklike kontrole vir waarheidsgetuienis en -instandhouding.
Gods Woord is dus ons maatstaf en die enigste onfeilbare Bron van waarheid, waarmee ons ons voortdurend moet besig hou en ons gedagtes mee moet vul. Dit is die enigste manier waarop ons denke deur die Heilige Gees vernuwe kan word om die goeie en volmaakte wil van God te onderskei en te ken.

Tweedens, soek ons na die waarheid in objektiewe feite en omstandighede.
Byvoorbeeld : 'Wat het régtig gebeur?'
Vra vrae en kontroleer/toets d werklikheids-getrouheid van 'n idee of berig oor wat gebeur het. Ons kan nie bekostig om ons eie idees te huisves oor 'n situasie of gebeurlikheid, wat ons gekonstrueer het met 'n mengsel van onwaarhede en halwe waarhede nie. Ek moet seker maak dat ek dit as waar kan aanvaar, voordat ek met my interpretasie van 'n saak begin werk.
Al veroorsaak dit pyn of ongemak? Ja, al veroorsaak dit pyn of ongemak. Want my liefde vir die waarheid is meer diepgewortel as my liefde vir my eie aannames en idees en oortuigings. My liefde vir die waarheid en my liefde vir God gaan mos hand aan hand.

Derdens, moet die Woord se waarhede TOEGEPAS word in daardie feitelike omstandighede of situasies. Of anders gestel : Die gebeure moet ondersoek en geïnterpreteer word in die lig van God se Woord. Eers dan kan ek dit evalueer en besluit of en watter soort korreksies aangebring behoort te word.
Met ander woorde, ons moet nie net die Woord intellektuéél ken nie, al begin ons daar. Ons moet dit laat práát met 'n lewenspraktyk wat die toets van die werklikheid deurstaan het.

Tussen nrs 2 en 3
Ons noem dit maar 2 ½ = Die WIL.

 Ek noem dit My 'WILs-deurtjie'.




Hy het nie 'n outomatiese stelling nie.

             Hy het ook nie 'n onmoontlike slot nie.                       




Ek moet hom vry-WIL- lig oopstoot  
en daardeur ingaan, of hy bly toe.  






                                                                                                                


Matthew Henry verwys in sy kommentaar op Rom 1:2 na die krag van die wil as "that absolute despotic power which the will has over the body and all its members".
Doen ons altyd wat ons gló goed en waar is? Nee.
Gebruik ek my wil altyd om wat ek gló vir my goed is, te doen? Nee.

Ons ly tot 'n baie groter mate as wat ons besef, aan passiwiteit in ons denke en gedrag. Die wil(-skrag) ontbreek/word nie gebruik nie, om aktief toe te tree tot gesonde denkprosesse wat die waarheid soek, en wat dit dan implimenteer in 'n gesonde, godvrugtige leefstyl.

Hoe lyk ons vollediger skema dus nou?

1      =  GEDAGTES 
1 ½  =  Die TOETS vir die waarheid van hierdie gedagtes 
2      =  GLO dat die idee/gedagte waar is
2 ½  =  WIL aktief raak en dit implimenteer
3       =  DOEN dit wat ek glo waar is
                                                                                
Wanneer ek die twee tussen-in, meer  BEWUSTE stappe uitlaat, nl die TOETS en die WIL,
verloop die proses so te sê OUTOMATIES : wat ek dink, aanvaar ek as waar, en dit word 'n optrede/daad. So ontwikkel 'n leefwyse wat deurvleg is met goed wat ek glo, wat nie noodwendig waar is nie, wat halwe waarhede bevat, maar wat my optrede deurslaggewend bepaal. 
Ek moet hierdie outomatiese en destruktiewe proses WIL omkeer en die gepaardgaande moeite WIL doen, voordat dit sal verander.

Hoe nou verstaan? Kan ek iets daaraan doen wanneer dit God alleen is wat daardie iets in my tot stand kan bring?
Ja. Die opdragte van die Bybel en my gehoorsaamheid daaraan is onontkombaar. Ek moet 'my deel' doen, en dit is om die genade-middele wat Hy aan my beskikbaar gestel het, te gebruik.
Wat is hierdie genade-middele? Daar is baie middele waardeur die Here wil werk en wat Hy tot ons beskikking stel, maar in aansluiting by ons tema wil ek hier net verwys na die volgende.
Die beheer van my denk-prosesse in my brein, as die beheersentrum van my liggaam en al my fakulteite, is byvoorbeeld 'n genade-middel wat ek ontvang het. Ek moet dit gebruik!
'n Gelowige, toegewyde ouer wat haar/sy kinders wil grootmaak vir die Here, is 'n genade-middel van die Here in hul lewens. Ek moet dit gebruik tot hul siele-heil!

Ek kan nie die wedergeboorte van my kind se hart bewerkstellig nie; ek kan sy hart voed met alles wat hy nodig het om te weet van dié God wat 'n hart van klip kan opwek tot 'n hart van vleis en bloed wat Hom kan liefhê.
Ek kan nie my kind se ou sondige natuur vernietig nie; ek kan hom bekendstel aan die kruis van Jesus waar daardie natuur vasgespyker kan word.
Ek kan nie my kind se talente skep nie; ek kan hom help om sy talente in 'n rigting te ontwikkel wat geestelik opbou en die Skepper daarvan verheerlik.
Ek kan nie sy voorkeure en natuurlike aptyt bepaal nie; ek kan vaardig raak in planne om sy natuurlike smake te omvorm deur nuwe aptyte te oefen, totdat dit wat goed is vir hom en wat vir God aanneemlik is,
ook vir hom bekend en bemind raak.
Ek kan nie sy uiteindelike lewensstyl bepaal nie, maar ek kan hom voorstel aan die standaarde van die Bybel en vir hom illustreer hoe om dit as riglyne te gebruik om 'n leefstyl te stileer volgens die eise van Gods Woord. So leer ons om eerbaar te leef, in respek vir God, in Wie se teenwoordigheid ons bestaan.
So laat ons ons natuurlike geneigdhede en voorliefdes verskuif van wat wêrelds en self-gesentreerd en eie-willig is, na wat God wil en Hom behaag. So groei ons in heiligheid en begrip van die dinge waarmee ons ons denke moet vul.

Om Matthew Henry weer aan te haal, in aansluiting by Rom 12:1&2 wat sê, "Gee julleself as lewende, heilige offers... Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe..."

                                             It must be a free-will offering....
Lay your souls under the changing transforming influences of the blessed Spirit; 
seek unto God for grace in the use of all the means of grace. 
Though the new man be created of God, yet we must put it on (Eph 4:24).  

Misluk ons goeie voornemens al te dikwels? Kom ons gaan kyk dan watter stap(-pe) het nog nooit genoeg aandag gekry nie, en begin hulle oefen. Ons durf hulle nie toelaat om ons aanhoudend te pootjie nie. Laat ons dan met groter moed en daadkrag toetree tot die hoë roeping en uitdaging om onsself vry-wil-lig te offer en om ons denke voortdurend te vernuwe onder die kragtige hand van God, met die waarheid as vaandel van lig wat ons lei.





Wednesday, 13 August 2014

Kleipotte Breek


Haar naam is Palaza. Sy’s 'n ma, 'n tuinwerker, 'n ongeletterde, ongeskoolde arbeider in ons diens in die beginjare van ons huwelikslewe. Sy werk in ons tuin, verrimpel deur die Afrika-son en verweer in wind en weer. Ons oudste, vroeg-vroeg stewig op sy twee beentjies, hardloop gou buite rond en 'n geswore vriendskap ontwikkel tussen die twee. So word Palaza ‘Patatta’.
Sy ken die veld en die krag van die elemente. Sy ken die gevare van insekte en wilde diere en sy ken die noodsaak en skaarste van water en kos. Sy ken gras en hout en klei en gebreide velle, en verstaan hoe om dit in mandjies, kommetjies, bakke, speelgoed en klere-afskortings of komberse te verwerk. Maar plastiek en yster en glas is nie deel van haar ervarings-wêreld nie. Sy kan dit nie waardeer nie en sy stel nie belang om dit op te pas nie. Gevolglik word ons sterk plastiek-gieter soos sagte klei in haar hande. In plaas van 'n gemaklike sproei-reëntjie wat voor uit die tuit uitspuit om dorstige plante te voed, stroom water teen onbeheersde spoed uit elke skeur en gat wat reg rondom die gieter sigbaar word. 
Ons seuntjie klap vreugdevol sy hande voor dié waterryke ervaring. 
Ons staan verstom... “Hoe is dit moontlik??”  
Haar antwoord : “Daardie klein gaatjies beteken niks. Die plante ly droogte. Hulle soek baie meer kos.”  

En so word Palaza 'n simbool in ons huis, van die noodsaak en die sin van gebrokenheid in 'n onvolmaakte, sonde-vervloekte wêreld.

Die afgelope  dae het ek myself weer eens gesien in Palaza se gieter. Meer as drie weke gelede moes ek 'n beenoperasie ondergaan waar sekere senings terug geheg is aan die heupbeen. 'n Kort sinnetjie met gelade inhoud, want daar sit ek nou met nog 'n duidelike bars in my lewens-gieter. Die pad na algehele herstel lyk nog lank en steil en riskant. Miskien kry my gieter daarop nog 'n paar gate by.
Maak dit saak? Nee. 
Het dit sin?  Ja. 
AS ek kan volhard, en dit gelowig end-uit doen, met my oë gevestig op Jesus. 
Het dit sin om deur énige dal van beproewing of aanvegting te gaan? Ja. 
AS die beeld van Jesus sigbaar kan word deur daardie barste en Sy krag daardeur na ander kan vloei.

My vriendin, Johannet, kon met Palaza se verhaal identifiseer. Sy vertoon self ook menige krake in haar kleipot. Baie daarvan ken net sy en die Here, waar haar toevlug lê. Party se name ken ek ook : verliese, siekte, disleksia, kerklike afsondering, eensaamheid …
  
Persoonlike, liggaamlike pyn is onmiddellik en bars die klei. 
Emosionele, psigiese en geestelike pyn is eweneens onmiddellik en bring hul eie breuke mee. 
Die laste en beproewings van jou geliefdes is geneig om subtieler krake aan die agterkant van jou kruik te maak waar jy dit die minste verwag en waar die pyn jou onkant betrap. 
Die lyding van gebrokenes wat in jou skoot land, plaas druk, en verweer die ongeskonde dele van jou kleipot sonder toestemming.

Kan jy jou naam by die toepaslike plekke inskryf?

Mettertyd vind ons Palaza-verhaal uitdrukking in Johannet se kreatiwiteit met die volgende illustrasie :








Die inskripsie agterop sê onder andere :

“Hierdie verhaal het my hoop en begrip gegee waarom swaar en seer vir ons nodig is. Ek wil graag hê dat jy dit altyd sal onthou wanneer jy jou gebroke gieter water so gewillig op honger, verlore siele uitstort. Dit het my dors geles. Ek weet nou waar om die Lewende Water te kry. Dankie vir jou bereidheid.”







Paulus gee 'n ander beeld vir 'n soortgelyke waarheid :  
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; 
die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
(2 Kor 4:7)

Nou vra ek maar die vraag vir ons ander kleipotjies, wat ek weer in hierdie dae vir myself vra : 
Wat word deur ons aanvegtings, stryd, beproewings en uitdagings vrygestel? 
'n Vlaag van self-bejammering? Onvergenoegdheid? Innerlike wrokkigheid en verontwaardiging? 
Of word die plek van pyn en stryd die terrein waar die krag en lewe-gewende geur van Jesus vertoon en versprei word?

Ons is almal potte van klei. 
Kleipotte breek maklik. 
Meer nog : kleipotte moet breek. Die barste wys immers wie ek regtig is; maar terselfdertyd stel dit ook die kwaliteit en geur van die inhoud van die kleipot vry :
eie pogings
OF 
die alles-oortreffende krag van God.

Kom saam, Kleipot, en laat ons barste TEL!




Monday, 21 July 2014

(I) Passive in Battle




The lady in front of me battles with so many issues in her life, and with no real progress on any of them. As we have agreed to work with the truth as far as we understand it, I venture on the next stage of our journey together:  “I suspect that you have less of a problem with depression than with passivity.”
“I am not lázy!”, the poor woman exclaims in shocked disbelief, as we look each other squarely in the eye.
“No, you are not lazy. That is not what I meant when I suggested that you’ve got a problem with passivity. To be passive, means that you have disengaged in the active, honest response to your life’s struggles and challenges. You follow the path of least resistance, which leads you into your comfort zone of doing what comes naturally, without effort or challenge, even if it is not a pleasurable place for you to be in."

Of course, there can and often is a link between passivity and laziness which I wouldn't deny. But in the case of this woman, and many others I've had the privilege to work with in the past, I am convinced that there is a clear distinction.

Passivity is a good recipe for maintaining the status quo : a down spiral of the féélings of guilt, inadequacy and failure, and of course, even depression. ‘Panic, feeling down, unmotivated’ are emotions frequently described by people in this disposition. So, if we want to reap the same results, we must stick to this recipe. I don’t want to give the impression that this is the only aspect that must be addressed or is applicable to this state of mind. That would over simplify the matter greatly. But I do want to use it as an example to stress the importance of working on an active mind and attitude and to learn how to teach that to our children. This is something that should be regularly attended to and practiced from childhood, which sadly doesn't get the attention it merits.  

A mind left in 'automatic mode', finds its own disorderly way and will not submit to control easily, from without or from within. It will tend to submit to the random thought popping in from 'nowhere' or from observed/experienced circumstances, or to emotions of the moment, to what fééls good, comfortable and familiar, or what is the way of least resistance. It is a mind that can be described as "full of wandering thoughts... (or the)... imagination inflamed, or it is heavy, passive or sluggish and unusable. It is practically out of your own control and is uncontrolled by God." * 

Is this what we want for ourselves and for our children?
Shall we allow ourselves and them to stay stuck in feelings and emotions, not understanding that there is a way out, and how?

A passive mind is, spiritually spoken, actually one manifestation of the mind of the 'old man', which should be renewed , according to Eph 4:22&23.

Therefore passivity in mind and consequent behavior is a recipe :
#  to neither think things through,  
#  nor to hold, apply and express the truths it has already heard of
#  to create feelings of hopelessness, confusion, inner anger and despair – some of the symptoms of
    what is commonly diagnosed as the 'disease of depression'
#  to be prejudiced over truth
#  to not perceive spiritual matters or discern the will of God clearly 
#  to lead us away from the path of active obedience and service to God 

An active mind must be 
#  obtained at the cross for a christian, where the old man with all his faculties must die/ be put off, as
     our text says, and the new man can be born/be put on in the newness of all its faculties (e.g. Eph
     4:22/23)
#  practiced continuously, so that we can think through problems and feelings and experiences, in the
    light of Gods Word. In this process we search for root causes truthfully and pray through these
    things carefully. 
    This is how we start to engage in a specific kind of spiritual warfare and should start to teach
    that to our children as well. To them, their battles and challenges are as real and as difficult as we
    experience ours.
     Battles are fought individually, yes, but they are not fought alone. Soldiers stand next to each
     other, plan to strategically manoeuvre together, helping each other to not become inactive and
     ineffective

Let's take our children's hands and teach them not only that life out there is hard and not always fair, and that we can even be our own worst enemies within ourselves, but also how to handle this life. 
Peter demands in his first letter (1:13) : "Gird up your minds, be sober, set your hope fully upon the grace that is coming to you at the revelation of Jesus Christ."

So, hów do we do this thing called life, in this way??

* We start by studying Gods Word and applying it faithfully. This requires discipline and practice – and utilizing the armor of God. 
“Trying to do things in my own strength, doesn’t work, and just allows me to stay stuck,” our dear lady rightly admitted after understanding what I tried to explain to her in this regard. 
* This also requires the risk of leaving our comfort zones, as uneasy as it might be, and confront unpopular truths like ‘resist’ and ‘sin’, not only once, but again and again.

To lead this dear sister to the realization of what she herself eventually describes as : “My heavenly Father knows what the problem is, and I must take everything to the cross, and I must actively RESIST this enemy…”, isn’t easy, but rewarding and delightful for both of us.

This can be the same regarding our children. 

Will you join hands and approach the battlefield with me - for your own sake, for their sake, and ultimately for the sake of our Lord who showed us HOW? Before you answer, this requires courage and commitment, and honesty. So, while you consider this, we leave the practical side for a future post. 




* The Battle for the Mind, by Jessie Penn-Lewis. p 12





'n Hand Vol Jammerte




Die afgelope 2 weke was 'n tyd van intense dreinering met 'n aansteeklike griep wat ons hele huishouding lam gelê het, soos wat die domino-effek een gesinslid na die ander neergefel het. Gelukkig is dit nie dodelik nie, hou jy aan vir jouself sê, terwyl jy voel of 'n soort dood tog iewers lê en loer en langsamerhand alle reserwekragte en -mense  uitsuig…

Ons ken dit almal, hierdie tye van stilstand en verwondering oor hoe skielik en maklik ons planne tot niks kom nie en ons in hulpelose afwagting uitreik na ankers en bronne buitekant onsself. En as ons stadig begin opstaan uit die verydelde doelwitte vir 'n vakansie en kuier van geliefdes, maak een duidelike baken van onderskeiding  sin : die ervaring het ons onteenseglik verander, ten goede.     
Dit het ons lewe verruim.

Hoe is dit moontlik?
  
Ons deernis en meelewing met ander se klagtes en swaarkry het intussen aansienlik vergroot, en  ons afhanklikheid van God het in enkelvoudigheid gegroei . Enkelvoudig? Ja. Want ons begin noodgedwonge bely :
U ALLEEN      is in staat;
is my hartsverlange;
is vir my genoeg;
is my toevlug;
kan my dra en red en behoue laat deurkom…

Die enkelvoudige Jesus duld nie kompetisie, of opposisie, of 'n mindere plek nie. Wanneer jou asem vlak lê en niks anders skyn te help nie, dwing die erkenning oor jou trotse, stywe lippies :             
  “Net U is die Een deur wie ons lewe, beweeg en bestaan…”

Ek lees in dié tyd Mark 1:40 & 41 :
       Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: ‘As U wil, kan U my gesond maak’.
       Jesus het  hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: ‘Ek wil, word gesond!’

It is owing to His compassion for mankind that He had a hand with which to lay hold”,
 sê 'n Bybel-kommentaar oor hierdie verse.

Hoekom is dit vir ons so moeilik om ons aan Sy kragtige hand te onderwerp?, verwonder ek my opnuut
voor die wonder van Jesus. 'n Hand so vol medelye vir menslike lyding, so vol erbarming in ons
eensaamheid, so vol vriendelike aanvaarding en koel genesingskrag op 'n warm wond, so vol mag in ons
onmag, so vol liefde en sorgsaamheid in ons ankerlose verlorenheid.

Sy hand kan nie anders wees nie, want Sy hart kan nie anders voel nie, sê die teks.

Ken ons Jesus so, in ons huise?
Is Hy vir ons genoeg, of wil ons Hom hê, PLUS…?

Wil ons nog eers ons eie idees laat geld, ons eie planne realiseer en Hom inspan om ons stuurjonge te wees
na geluk en self-gelding? Dan het ons ons nog nie aan Sy hand onderwerp nie – soos 'n hulpelose sieke wat
nêrens anders meer het om heen te draai nie, en net in afhanklikheid buig onder daardie uitgestrekte hand
wat aanraak en streel. 

Kén ons dié  hand van Jesus? 

Dit is nie 'n hand wat aan almal bekend is nie.
Net 'n uitverkore groep wat hulself  ‘kinders’ kan noem, ken en herken daardie koel aanraking op 'n koorsige voorkop, op 'n kloppende seer.
Net die onderworpe gesindheid van knieë wat voor Hom buig en bely : “As U wil…nie my wil nie…”,
herken die vreugde van Sy uitgestrekte greep met die blye bevestiging :
“Ek wil…nie jou wil nie, maar Myne.”

Ek vertrou dat dit nie nodig word vir baie van ons om eers 'n onbenydenswaardige 'melaatsheid' in een of
ander vorm op te doen, voordat ons na daardie heerlike hand gryp nie. Mag hierdie dae van baie siektes en
griepe en noodroepe, ons vinnig en effektief op ons knieë bring en ons laat inbuig onder die kragtige hand
van ons lieflike, magtige Meester!

Mag ons kinders en jongmense dit sien, en verlang na die reikwydte van Sy aanraking – van Sy hand alleen
Mag ons, en hulle, Sy aanraking so leer ken, dat dit vir ons genoeg word.





Tuesday, 1 July 2014

Wees versigtig en paraat met jou denke (2)

Nou ja, JV het die uitdaging aanvaar en haar 3-jarige begin oefen in begrip van sy denke. Presies wat hulle gedoen het, sê sy nie, maar die uitkoms kan julle breedvoeriger lees in haar comment op aflewering 1:


Na ek die post gelees het, het ons die week met Christiaan gesels daaroor. Ek het vir my man gese hy is nog nie 5 nie so hy sal nie alles verstaan nie maar ons oefen solank sy gedagtes...
Nou ja dis waarop ek en my man toe afkom: Groot sirkels met kleiner sirkels binne in die sirkels....En sy woorde is as volg : "Kyk ek het my en boetie en al my niggies en nefies se koppe geteken en binne-in ons dink-koppe! GROOT op ons slaapkamer muur! Soos ek vir my skoonsussies sê, ek was so dankbaar om te sien my kind het iets verstaan van die week se "les"...


(Net so tussen my en jou, Christiaan - daardie pak slae was oor en oor die moeite werd vir hierdie poging! Mag die waarheid oor jou dink-kop so in jou brein ingegraveer wees hierna, dat dit jou lanseer om insig te kry in die aktiewe hantering van jou lewe. Die tyd waarin ons leef, plaas kinders in outomatiese rat, waarmee hulle toelaat om, passief in hul denke, voortgesleep te word saam met die heersende rigting waarin die winde waai; of voortgesleep te word in 'n destruktiewe denk-patroon wat hulleself kweek en voed en waarvan hulle dan nie sonder 'n groot stryd weer ontslae kan raak nie.)

Om te vervolg waar ek opgehou het in aflewering 1 toe ek gesê het : "Om ons denke te beheer, moet ons net ietsie meer verstaan van die wonderlike meganisme en belangrikheid van die gedagtes (Engels MIND)."
Hier gaan ek dit probeer verduidelik in 'n skema.
(WARSKUWING : dis nie bedoel vir vlug-lees nie! Ons vrouens doen deesdae alles al hardlopende en meen ons kan so op belangrike waarhede ook fokus. Nee! Konsentreer, let op elke woord, dis uitgekies met 'n doel, en sorg dat jy dit verstaan en  jouself dan oefen om jou gedagtes te vul met selfs die detail. Jy gaan dit nodig kry in die toepassing van die waarhede, vir jouself en vir jou kinders, of andere wat jy langs die pad sal kan help.)
Dus :

(1) GEDAGTES  lei tot iets wat ek
(2) GLO.  Ek GLO dit net omdat ek van mening is dat dit WAAR is. Niemand glo immers iets wat hy meen 'n leuen is nie. En hierdie geloof lei tot iets wat ek op grond daarvan
(3) IS/DOEN (my aksies of dade)
                                                                                                                                                               
Dis die drie hoofstappe.
Kom ons rol hulle van agter af op, dan sien ons hoe dit in die praktyk vir ons werk, al is dit nie so meganies nie.

(3) Waarom doen ek wat ek doen? Waarom is ek bv so gedrewe/oorwerk/bekommerd/liefdeloos/vreesagtig/vol twyfel...?
(2) Want ek glo iets gaan gebeur/iets gaan nie gebeur nie/iets is waar,ens, wat my so laat optree. Wat laat my dit glo? Uiterlike gebeure mag die oorsaak wees, ja, maar my interpretasie daarvan - waar kom dit vandaan?
(1) Van 'n gedagte / 'n manier waarop ek daaroor dink, wat my ten opsigte daarvan posisioneer.

'n Skema het altyd sy beperkings, maar gelukkig ook sy voordele. Een daarvan is dat dit dinge vereenvoudig, en dis wat ons nodig het wanneer ons veral met ons kinders werk : eenvoud. En die vermoë om dit so oor te dra.

Ek hoop dit help met die volgende stap in die herkenning en oefening van gedagte-patrone.
Maar baie keer gly ons in die praktyk en vorder nie. Hoekom nie? Onder verskeie redes noem ek hier eers net twee:
(a) ons is te haastig - ons kultuur stel net belang in kits-oplossings, en nie in prosesse nie!
(b) tussen die drie hoofstappe, nl tussen stappe 1 en 2, en stappe 2 en 3, is daar telkens 'n stap wat ons maklik miskyk, maar wat aandag moet kry. Omdat ons hierdie tussen-in stappe nie raaksien en aktief aandag aan gee nie, besef ons nie hoe maklik hulle ons pootjie en goeie voornemens laat misluk nie.
Daaroor egter,volgende keer!








Saturday, 28 June 2014

Dinosourusse en ystydperk : miljoene jare gelede? (1)

Meline skryf 'n aanmerking nav die eerste blog wat my aan die hart gryp :

 Ek val nou sommer met die deur in die huis, want ek weet nie vir wie om eintlik te vra nie... 
 'n Vriendin het vir my gevra hoe dinosaurs en iets soos die "ice age" in God se skepping inpas as dit miljoene jare gelede was.  Dis iets wat ek altyd opsy skuif en nie probeer om vir myself uit te pluis nie, maar ek het gedink dat tannie dalk 'n antwoord sal hê want ek weet dat julle al sulke videos gekyk het daaroor...

En soos ek haar daar o.a. geantwoord het :
Wanneer jou vriendin die probleem formuleer, sal jy haar probeer help. Wanneer jou kind die probleem opper as 'n weselike probleem om nog in die God van die Bybel te glo, soos wat ons toenemend in die praktyk begin beleef in baie christen-gesinne, wat maak jy dan?
As jy tot nog toe 'gesmeul' het, begin jy skielik aan die brand raak!, kan ek jou verseker.
En julle mamma's met kinders in die huis wat nog baie beïnvloedbaar is, sal goed doen om betyds aan die brand te begin raak oor onderwerpe soos hierdie een wat jy nou aanroer. As jy nie doeltreffende inligting kan begin bekom en deurgee nie - die media is vol van die teenoorgestelde inligting, en ons kinders is gereed om dit te omhels...

Voordat ek meer feitelike inligting deurgee, kom ons kyk net eers na jou posisionering as ma wat jou kindertjies vir die Here wil grootmaak. As dit van jou waar is, moet jy vir jouself 'n sekere doelwit stel en bepaal watter roete jy gaan volg om daar uit te kom. Baie dinge gaan verseker langs die pad uitgedaag word, tekortkominge gaan daar wees, sommige sieninge en handelswyses gaan selfs sneuwel, andere gaan versterk word en vestig as vaste oortuigings. Jy kan en gaan die fondament daarvoor lê in die lewens van jou kinders. Dus moet jy jouself bewustelik op hoogte kry met die basiese materiaal wat jy nodig het daarvoor.

Ons het bv die uitgangspunt gehad dat die Bybel die tydlose, onfeilbare (foutlose) Woord van God is. Dus bepaal dit ons beskouing van 1. wie en wat God is, 2. wie en hoe die mens is, en 3. hoe die pad van redding lyk.

Soos fyn, onbreekbare drade het hierdie geloofs-oortuigings alle aspekte van ons kinders se opvoeding en grootwordjare aanmekaargeweef. Hulle het dit moeiteloos verstaan en as boustene gebruik in hul ontwikkelende denkraamwerk, om daaruit uiteindelik 'n lewens-en wêreld-beskouing te laat uitkristalliseer as volwassenes.

Die beginsel wat ek gebruik het toe ek met my kindertjies gewerk het, was :
As iets jou laat twyfel in die God van die Bybel, moet dit nie glo nie.

Vir baie ander mag dit na 'n 'brein-dood-argument' klink. Vir my het dit gewerk. As jy twee of meer botsende argumente het, gaan jou geneigdheid wees om een aan te hang en die ander te betwyfel. Die fondament waarop jy staan is dus: Verwerp in beginsel twyfel in God, en gaan dan gerus aan met jou ondersoek en argumentering van die saak op die tafel.

Enige mening of verstaan van 'n saak kan mettertyd gewysig , verander, verbeter of verwerp word, sonder 'n ingrypende gevaar vir jou bestaan hier en in die lewe hierna. Dit geld egter nie vir jou geloof in die God van die Bybel nie. Daarmee loop jy nie 'n risiko nie en dit kompromiteer jy nie - nie in jou eie lewe of in die vorming van die lewens van jou kinders nie.

Hoe het hierdie beginsel neerslag gevind in die optrede van ons kinders?

Die eerste konfrontasie het gekom kort nadat die twee oudstes gemaklik kon lees en hulle die elementêre ensiklopedie-reeks in Afrikaans, van Systems for Education, in die huis onder hande begin neem het. Die sub-titel was : Die Ooggetuie-Reeks. Een middag kom die twee met Volume 1 in die hand en hul twee jonger boeties op die hakke, by my aan :
"Mamma, evolusie is mos nie waar nie, ne?"
Vreemd, dink ek, dat hulle nou al daarmee te doen kry. En voordat ek kan antwoord, kom hul eie verduideliking:
"Die eerste sin in hierdie ensiklopedie sê : Miljoene jare gelede het lewe ontstaan deur evolusie...Maar op die voorblad staan daar ooggetuie-reeks. Dis mos duidelik 'n leuen, want wie was nou 'n ooggetuie van miljoene jare gelede?"

En het ek miskien gemeen ek maak alleen my kinders groot vir die Here?, sing my hart dankbaar as ek besef Hy doen die werk, ek is maar 'n klein deel daarvan.

Ek onthou 'n heftige woordewisseling tussen die saamryklub-kinders een middag in die kar op pad huis toe van die skool af - oor evolusie versus skepping :
"En ek sê jou, in ons ensiklopedie staan daar evolusie is waar!", roep een maatjie, ook in Gr 5, rooi in die gesig uit.
"En ek sê jou, 'n ensiklopedie kan jok!", troef ons oudste, met die tot hiertoe ondenkbare gedagte vir die ander kinders, "want alle boeke kan jok, net nie die Bybel nie!"
Stilte volg - geskok, oorbluf, ontsteld, maar stil, tot by die aflaaipunt.

Het ons hom die argument by die huis geleer? Nee. Maar die beginsel is so goed gesnap en as waarheid aanvaar, dat hy in die oomblik van toetsing die uitdaging kan aanvaar.
Die keuse? Betwyfel die ensiklopedie of betwyfel die Bybel. Nou het hy die gereedskap om 'n geloofsoortuiging toe te pas en te bevestig.

Sy broer net jonger as hy kom eweneens eendag van die skool af en vertel : "Daar was 'n ds vanoggend by skoolopening wat gesê het Genesis 1-11 is nie waar nie, dis 'n mite, soos 'n sprokie wat sekere goed wil tuisbring maar self nie waar is nie, as ek dit reg verstaan het. En hy't verduidelik dat die skepping oor miljoene jare heen plaasgevind het, want 'n dag beteken nie regtig 24 uur in Genesis nie, en dit deur evolusie, nie deurdat God gepraat het en dit was so nie. Ons maats het dit pouse bespreek, en hulle het dit almal verdedig. Al wat ek gesê het, is : Daar staan geskrywe, 'Dit was aand en dit was more, die tweede dag', ens. Wanneer dit aand en more word en dis die volgende dag, lyk dit vir my na 24 uur, dus sal ek dit maar bly glo, maak nie saak wat hulle sê nie."
Die keuse? Glo in die Skepper-God van die Bybel, of verander daardie Godsbeeld om aan te pas by die sieninge en interpretasies van mense. As dit my geloof in God aantas, kies ek liewer daarteen.

Dieselfde ooggetuie-reeks het te vertelle dat daar dinosaurusse op die aarde geleef het miljoene jare gelede...
Gevolglik het ons kinders vinnig besluit dat hulle ook nie in dinosaurusse glo nie. (Ek het egter vir hulle verduidelik dat daar wel so iets geleef het soos drake en monsters, omdat die Bybel daarvan vertel en sê dat God hulle ook geskep het.) Ons jongste het dus, sonder ons mede-wete, volgens die eis van sy oortuiging, die juffrou gevra om vir hom 'n ander werkstuk-opdrag te gee, toe hulle die tema van dinosaurusse kry in Gr 5, as ek reg onthou. Toe sy weier en hom probeer oortuig om dit tog maar te doen, het hy een sin op die bladsy geskryf en dit as sy opdrag ingegee: "Ek glo nie in dinosaurusse nie."
Ek was stomgeslaan. "Hoe kan jy so iets doen? Besef jy jy gaan nul kry vir die projek?"
"Ek weet ja. Maar mamma, ek gaan nie my brein vol goed maak wat ek nie glo nie en wat my dalk kan laat twyfel dat God alles gemaak het soos die Bybel sê. Dan kry ek liewer nul. Ek sal opmaak met die ander werk."

Die keuse?
Is daar 'n keuse? Is daar 'n ander opsie, vir ons wat een doel voor oë het : om ons en ons kinders se harte te kry waar die grootste skat is? Wat is 'n slaagsyfer vir 'n projek, die mening van 'n juffrou, die verhaal van menslike sukses en aansien, in die lig van ons onbeskryflik-kosbare geloof in 'n almagtige, alwetende, onoortreflike God wat nie net hemel en aarde uit niks tot stand gebring/geskep het deur Sy Woord nie, maar wat ook my bose lewe kom red het van sonde en herskep het tot 'n nuwe lewe?

Het ons ons siening van dinosaurusse intussen verander? Ja.
Het dit ons lewe ten kwade beïnvloed? Nee.
Het ons ons geloofsoortuigings intussen verander? Nee.
Het dit ons lewe verryk en gedra en gebou? Ja, meer as wat ons in nie-krisistye ooit sou kon vermoed het!

So, Meline, voordat ek in die volgende blog jou briefie spesifiek beantwoord, wil ek jou en jou vriendin en al ons ander mamma's uitdaag :
Gaan formuleer vir jou 'n doelwit met jou kinders, en plaas 'n prys daarop, as jy dit nog nie bewustelik gedoen het nie.
Watter prys gaan te hoog wees vir jou om te betaal daarvoor?
Ken jy self die pad daarheen, en het jy die hulpmiddele om daardie pad te loop?

Moenie te besig wees om antwoorde te kry op hierdie vrae nie. Daarvoor is jul eie en jul kinders se lewens te kosbaar!