Pages

Saturday, 21 June 2014

Wees versigtig en paraat met jou denke! (1)



         


Ek reageer graag hier op Tanya se 'comment' na die vorige 'post' :

"Tannie se by punt nr 3 dat mens jou denke moet kontroleer en ook jou kindjie so moet oefen en denke moet terug plaas onder die kontrole van die Heilige Gees? Hoe werk dit prakties met jou kind. Ek het my kleintjies by my so ons kan seker heeldag oefen. Ek sal graag ook wil weet hoe kan mammas dit oefen wat se kindertjies in die kleuterskool is."

Om ons denke te beheer, moet ons net ietsie meer verstaan van die wonderlike meganisme en belangrikheid van die gedagtes (Engels MIND). Selfs klein kinders ervaar hulle brein en denkvermoë as asemrowend sodra hulle bewus raak daarvan/ons hulle daarvan bewus begin maak. Ek het dit destyds in my kinders beleef en dit weer eens onlangs bevestig gevind in my ouer kleinkinders.
Ons oudste kleinseun Shaun was 5 jr oud toe sy kleuterskool-juffrou vir hulle verduidelik hoe mens met jou brein kan dink. Hy het my breedvoerig die hele storie vertel en toe afgesluit met :
”Ouma, ek dink en ek dink met my brein…. En weet jy wat? Ek gaan nooit toelaat dat ander kinders vir my besluit wat ek moet dink nie, want dit is mos wonderlik dat ek self 'n brein het en self kan besluit wat ek wil dink!”
“En as ander kinders wil hê jy moet goed saam met hulle doen omdat hulle so dink?”, lok ek hom uit.
Stilte.
Wanneer ek dit wil verbreek, steek hy sy hand se binnekant teenoor my uit en sê :
“Sjuut, ouma, ek dink!”  
En dan, na 'n rukkie : “ Nee, dit sal ek nie doen nie. Want dan laat ek hulle mos toe om vir my te dink, en waarvoor het die Here dan vir my hierdie wonderlike brein gegee? Ek sê ouma wat is 'n beter plan. Ek sal met my brein dink, dan moet hulle liewer saam met my doen wat ek dink!”
En ons twee lag te lekker saam oor dié blink idee!! - terwyl ek die Here stilweg dank vir die opmerklike werk van die Heilige Gees in dié kind se hart. Natuurlik het hy dit intussen weer dikwels vergeet en moet ek hom herinner en verder op die begrippe uitbrei as ek hom sien, soos wat hy groter word, te midde van al die ander insette van sy ouers ook.  Maar dit is mos juis wat ons werk aan onsself en ons opvoedingstaak met ons kinders behels: herhaling, aanpassing in elke nuwe lewensfase en begripsvermoë, inprenting, en oefening.

In Spreuke 27:19 staan daar :
“Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.”

Wie jy is, hoe jy lyk en wat jy doen, is maw 'n spieëlbeeld van jou denke. 
Lyk jou hare deurmekaar, jou oë ongewas, jou vel onversorg as jy in die spieël kyk? Dan moet jy werk aan die oorsaak van die probleem.  Wil jy anders lyk? Optree? Redeneer? Wil jy hê jou kind moet anders lyk, optree, redeneer? Werk dan aan die bron waaruit hierdie optrede vloei  – en dis die denke. Ek vermoed ons is geneig om veel meer en veel eerder te werk aan die simptome as aan die oorsake, in onsself en in ons kinders. Om hierdie situasie om te keer, vra 'n bewuste poging en bewuste soeke na die waarheid, en bewuste oefening op grond daarvan.
Spr 22:6 gee die duidelike opdrag :
“OEFEN (Engels TRAIN) die seun in die eis van sy weg,
 en hy sal, as hy groot is, nie daarvan afwyk nie.”
Hiermee wil ek nie sê ons moenie gesonde dissipline toepas tov gedrag nie. Daarvoor is daar baie riglyne in die Skrif waaraan ons nie durf ongehoorsaam wees nie. Maar jy kan bv nie, om dit so te stel, vrees/bang of woede/kwaad-wees of bekommernis/ongelukkigheid of verwerping uit 'n kind uit slaan/dissiplineer nie. Kinders het op hulle eie vlak eintlik ook reeds die meeste van die emosies en belewenisse wat ons as volwassenes het. Hulle kan dit net nie altyd verwoord nie. Ons kan hulle baie daarmee help. Daarvoor moet ons natuurlik hulle leefwêreld met hulle deel, baie tyd met hulle spandeer en hulle grotendeels verstaan. (Dit is dus verblydend, Tanya, dat jy sê jy het jou kindertjies heeldag by jou om te kan oefen!)
 As jou kind bv aggressief reageer teenoor sy sussie in 'n bepaalde situasie, moet jy onthou dat daar agter die aggressie 'n gedagte werksaam is wat sy optrede bekragtig. Aan die een kant mag hy nie toegelaat word om sy aggressie op haar uit te haal nie, maar aan die ander kant moet jy hom help om agter te kom en te verstaan wat laat hom so voel. Dieselfde geld vir hartseer of vrees of moedeloosheid of bedruktheid of noem maar op.

Eers wanneer ons oortuig raak van die waarheid dat ons denke die oorsprong van ons gedrags-uitinge is, raak dit vir ons belangrik om daaraan die nodige aandag te gee deur daaraan te werk.

“Waar begin ek?”, is gewoonlik vlak op ons lippe.

Ek sou voorstel begin verduidelik hoe ons liggaamsdele werk – die ogies sien, die oortjies hoor, die voete loop…. en die koppie dink. Maar die ore kan nie hoor en die voete kan nie loop as die brein daar in die koppie nie vir hulle sê om dit te doen nie. Net so kan ek nie kwaad of hartseer of bly wees (wat die eis van die oomblik ook al is) as die brein daar in my koppie nie vir my hartjie / my gevoelens so sê nie.
Hoe sê my brein dit? Met woorde, wat vertel van gedagtes…. En meeste kere praat hy so sag, dat ons dit nie eers hoor nie. As hy vir jou voetjies sê om te loop, hoor jy dit? Maar tog loop jy dan…., ens. ens. En as hy woorde dink wat jou laat bang voel, hoor jy dit nie altyd nie, jy voel net die bang. Nou gaan mamma jou help om uit te vind wat dink en sê jou brein wat jou so bang laat voel, want gewoonlik is dit glad nie eers waar nie en dan is jy verniet bang. Dan moet ons daardie gedagte/woorde wegjaag en jou brein help om die regte ding te sê en te dink, wat jou nie sal laat bang word nie.
Die regte ding gaan ons in die Bybel kry, want dit is God se woorde wat Hy wil hê ons brein moet dink en wat ons moet glo. So, nou gaan mamma saam met jou bid en vir die Here vra dat Sy Gees ons sal help om uit te vind wat daardie sagte woorde en gedagtes is wat jy nie nou kan hoor nie maar wat jou bang maak. En dan gaan ons met Sy krag oefen om dit te hoor en weg te jaag en in die plek daarvan net die gedagtes en woorde te dink wat Hy wil hê jy moet dink. Dan kom daar vrede en gelukkigheid in die plek van die bang-wees.

En ons bid soveel kere as wat nodig is; ons oefen om elke gedagte wat so geïdentifiseer is, te vang en weg te jaag en te vervang met wat waar en mooi en opbouend en vol vertroue is in die Here Jesus. (Bv uit my eie kinders se lewe :
“Ek is bang vir 'n swart kat wat oral loer om my te vang….!” 
Dan gaan ons deur die proses van : Is dit waar/onwaar? Wie is die sterkste? Jesus of enige swart kat? Wat kan ons maak met daardie gedagte oor/bang vir die swart kat? Vat hom kruis toe dat Jesus hom daar vasspyker. Nou is hy daar dood saam met Hom, waar hy ook vir my sonde doodgegaan het.  En elke keer wat ek weer bang word, jaag ek dit weg in Jesus se Naam en dink ek daaraan dat Hy my vashou en beskerm en die heel sterkste is…
 Die uiteinde was dat die seuntjie hardop in die konfrontasie uitgeroep het :
“Swart kat, in die Naam van Jesus, ek slaan jou op jou snoet!”
Daarna was die slag gelewer, die vrees oorwin en die gedagtes vervang met vertroue in die krag van Jesus.)
Hoe plaas ons nou ons denke terug onder die kontrole van die Heilige Gees?
Ek besluit waaroor ek wil en behoort te dink en ek vra dat die Heilige Gees sal waak/waghou oor my gedagtes; dat Hy die deurtjie daar by my brein sal toehou vir al die bangmaak-woorde en my sal help om die regte dinge te dink en te glo. Rom 12:2 :
“Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei…"  

Dis die beginsel  in 'n neutedop.

Dis bykans 4 jaar later. Shaun word in September 9. En in die laaste tyd het hy 'n verdere hoeksteen oor sy wonderlike denkvermoë ontdek :
“ As hy net wil saamwerk, kan my brein baie doen!”, lig hy ons oor skype in.
Die vraag waarmee ek myself dikwels konfronteer as dit oor ons denke gaan, is :
Sien ons kans om dit wat ons ons kinders leer, self te begin oefen en so vir hulle te demonstreer?

Wil ons regtig sélf saamwerk?

4 comments:

  1. Dankie Tanya vir die vraag! Na ek die post gelees het, het ons die week met Christiaan gesels daaroor. Ek het vir my man gese hy is nog nie 5 nie so hy sal nie alles verstaan nie maar ons oefen solank sy gedagtes...
    Nou ja dis waarop ek en my man toe afkom: Groot sirkels met kleiner sirkels binne in die sirkels....En sy woorde is as volg "Kyk ek het my en boetie en al my niggies en nefies se koppe geteken en binne in ons dink koppe! GROOT op ons slaapkamer muur! Soos ek vir my skoonsussies se ek was so dankbaar om te sien my kind het iets verstaan van die week se "les"... Hy het 3 van die bestes gekry omdat hy weet ons teken net op papier!
    Hoekom ek dit deel is omdat ek soms so moedeloos word as ek nie vrug sien by my kids nie en soms raak ek ongeduldig as ons te lank met een ding sukkel... Ek het besef ek moet meer bid vir hulle en my eie ongeduld en die Here meer vertrou vir die vrug in hulle lewe! Wens ek kon n foto oplaai van die sirkels!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jy was voorwaar baie braaf om 'n 3-jarige te begin oefen om sy denke te beheer!! Maar dis waarvoor ons daar is - om die uitdagings namens ons kinders te aanvaar en in geloof niks as onmoontlik of ondenkbaar vir God te beskou nie. As ons so maklik kan spog met ons 'baie intelligente' kinders, moet ons self glo dat hulle as beelddraers van God so geskape is en ook op geestelike vlak tot baie meer begrip/'denke!' in staat is as wat dikwels oor die algemeen aanvaar word. Verder hieroor op die volgende blog, waar ek die tekeninge sal plaas. Dankie dat jy gedeel het!

      Delete
  2. Dankie Tannie vir die praktiese raad! My oudste is sewe en middelste is vier en jongste is twee. Die verskillende geaardhede en ouderdomme is soms vir my moeilik, om op elkeen se vlak te kom en al die uitdagings van die lewe. Om tannie se vraag te antwoord: Ek sien kans om dit te self te oefen en vir my kinders te leer! Ek het net nog n klompie vrae. Ek is dankbaar dat ek van hierdie blog gehoor het! Die pad kan soms baie alleen voel!

    ReplyDelete
    Replies
    1. 'n Bewuste, geformuleerde besluit is dikwels die beste wegspringblokke wat ons kan bekom. "As jy net WIL saamwerk, kan jou brein en jou besluit baie doen!" Dus, geluk Tanya! Jou wegspringblokke is goed, hulle werk en jou beoogde wedloop beloof om opwindend te wees.
      Net 'n woord oor jou kinders se verskillende geaardhede en ouderdomme. Saam met die uitdaging, is daar ook baie voordele in. Hulle leer nie net by mekaar vd verskeidenheid in die lewens van mense nie, maar ook by jou hantering van 'n jonger of ouer boetie/sussie, kry hulle as't ware informele in-diens-opleiding. En vertrou die Here om die vlak waarop jy 'n betrokke kind ontmoet, deur Sy Gees vir die ander ook relevant te maak op hul onderskeie vlakke. Wanneer ons met die waarheid vd Woord werk, gebeur dit dat die toepassing daarvan vir ons almal se unieke omstandighede en geaardhede verskillend en tog tegelykertyd effektief mag wees.
      Jy kan maar jou vrae vra, ons soek saam na oplossings. Op die alleen-pad waarop jy is, en waarop baie ander vroue, glo my, ook is, wil ek ten minste vir jou 'n klankbord skep en jou aanmoedig langs jou baan : trotseer elke hindernis, gee alles wat jy het, hou goeie moed, want die prys wat wag is onoortreflik en meer as die moeite werd om voor te veg.

      Delete