Pages

Wednesday, 11 June 2014

Smeul of brand?

Ek dink baie van ons Christen-vroue het lank genoeg gelê en smeul.

Ons is warm, ons het baie talente, vermoëns, gawes, middele, opleiding, noem maar op - maar ons maak nie genoeg verskil aan die voorkoms van ons samelewings en die gedrag van ons kinders nie.
Ons brand nie met die ywer van 'n vuur, om so 'n invloed uit te oefen op die kringe waarin ons leef of wat ons soms aanraak, dat ons die merke nalaat en bewyse lewer van wat ons glo nie.
Ons vertoon nie altyd 'n passie en ywer wat die krag van onvernietigbare lewe in hom dra nie.
Ons gebruik nie die winde van agter om ons aan te vuur tot beter terreine en groter hoogtes as wat ons meen die gemiddelde standaarde is nie. (Wat sou die winde van agter in elk geval wees?!)
Ons bly tevrede met menings van "die mense" en delf nie dieper na argumente wat al ons insette en reserwes vra nie. (Is die normale eise van die lewe dan nie klaar veeleisend genoeg nie? Wie delf dan nog verder??)

Kan ons in elk geval so 'n verskil maak?

Ek glo ons kan!
Ek glo ons het genoeg antwoorde en bronne tot ons beskikking. En dan het ons veral ook nog mekaar. Dit is my (vurige!) begeerte dat ons mekaar sal aanmoedig en begelei op hierdie minder bekende roete.
Mag ons bewyse - soos die brandmerke van vuur - nalaat op elke plek en terrein waar ons beweeg en leef.
Mag ons die toets van die tyd deurstaan deur die manier waarop ons onsself presenteer en handhaaf in 'n wêreld-kultuur wat toenemend probeer om 'n gelykmaker te wees van almal : in die manier waarop ons getroud is, of enkellopend is, wat die rede daarvoor ook al mag wees; in die manier waarop ons die volgende geslag lanseer, en waarop ons onsself as vroue beleef en uitleef.
Sal ons nie mekaar se hande kan vat op hierdie verskillende terreine, 'n klankbord vir mekaar kan wees en so die pad na die eindbestemming meer sinvol kan maak nie?

Mag die kole wat in ons smeul, 'n vuur word wat in ons brand, wat ander vroue wat koud geword het langs die pad, kan aansteek en verwarm. So kan ons ons kinders en huwelike en alleenheid uit die kloue van wêreldsheid, ongedissiplineerdheid en ydelheid help terug begelei na 'n plek waar ons meer sinvol en roepings-bewus kan leef. En waar ons God beter kan leer ken.

Want wie Hom ken, kan nie anders as om Hom lief te hê nie.
En wie Hom liefhet, wil gehoorsaam aan Hom leef.

6 comments:

  1. Hallo! Ek is so dankbaar vir die blog... En veral vir die eerste post. Ek voel op die oomblik of ek le en die (smeul of brand) post het my nou laat dink... Ek wil net seker maak kan ek vrae vra op DIE blog? Antwoord Alta dit? My vriendin wil ook graag deel he aan die blog... Hoe werk dit?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Soos jy op die foto kan sien, vertel die plooie dat ek ek al 'n paar antwoorde deurgeworstel gekry het in my lewe. So, ek verwelkom vrae wat gepaardgaan met 'n opregte soeke na wat waar en opbouend en verrykend is. Of ek dit altyd sal kan beantwoord, is nie 'n gegewe nie. Ons is immers almal nog maar reisigers op pad... Maar wat ek het, deel ek graag, en wat ek nie het nie, gaan soek ek graag - en wat jy het, ontvang ek graag. Dus - welkom by my blog!!

      Delete
  2. Uiteindelik! Ek is baie bly jy het begin skryf. Dit was darem regtig hoogtyd gewees! :) Jy het so baie om te deel en mag die vroue wat hier lees waarlik aan die brand raak vir Jesus en kragtig in Sy Koninkryk gebruik word! :)

    ReplyDelete
  3. Dankie Mariëtte. Jy het die stokkie gevat en aangegee, en is steeds besig om jou resies met oorgawe en toewyding te hardloop. Dus is dit 'n voorreg om jou as gespreksgenoot te verwelkom op my blog - as daar moeilike situasies opduik, is dit altyd lekker om iemand soos jy te hê om die agterhoede te dek!

    ReplyDelete
  4. Hello Tannie Alta
    Ek wil ook saam met Mariëtte uitroep "Uiteindelik!!"
    Dis wonderlik dat die Here ook vir Tannie deur sosiale media kan gebruik om ons (wat vêr is) te bemoedig, ondersteun en leer uit die Woord... verál omdat Tannie so 'n besondere gawe het om met vrouens te werk.
    Ek val nou sommer met die deur in die huis met nóg 'n vragie...
    'n Vriendin het vir my gevra hoe dinosaurs en iets soos die "ice age" in God se skepping inpas as dit miljoene jare gelede was. Dis iets wat ek altyd opsy skuif en nie probeer om vir myself uit te pluis nie, maar ek het gedink dat Tannie dalk sal kan help met 'n antwoord... X

    Liefde

    ReplyDelete
  5. Meline, dankie vir jou eerlike hardop-waarneming van jouself ("dis iets wat ek altyd opsy skuif en nie probeer om vir myself uit te pluis nie") en dan natuurlik vir die vraag!
    Jy bevestig my stelling hier bo, wat in mindere of meerdere mate waar is van ons almal : "Ons bly tevrede met menings van 'die mense' en delf nie dieper na argumente wat al ons insette en reserwes vra nie. (Is die normale eise van die lewe dan nie klaar veeleisend genoeg nie? Wie delf dan nog verder??)"
    Wanneer jou vriendin die probleem formuleer, sal jy haar probeer help. Wanneer jou kind die probleem opper as 'n weselike probleem om nog in die God van die Bybel te glo, soos wat ons toenemend in die praktyk begin beleef in baie christen-gesinne, wat maak jy dan? As jy tot nog toe 'gesmeul' het, begin jy skielik aan die brand raak!, kan ek jou verseker. En julle mamma's met kinders in die huis wat nog baie beïnvloedbaar is, sal goed doen om betyds aan die brand te begin raak oor onderwerpe soos hierdie een wat jy nou aanroer. As jy nie doeltreffende inligting kan begin bekom en deurgee nie - die media is vol van die teenoorgestelde inligting, en ons kinders is gereed om dit te omhels.
    Ek antwoord jou dus op die volgende blog. En wees vrymoedig om jou vriendin te vra om verder daarop te reageer. Hierdie is 'n klein spitsie vd ysberg. Dus, gordel julleself vas en maak gereed vir 'n uitdagende reis!!

    ReplyDelete