Pages

Wednesday, 18 June 2014

Voorbereiding vir ouerskap




Ons Suid-Afrikaanse lewe het onherroeplik verander.

Ons familie- en vriendekringe is bykans almal in die afgelope klompie jare getref met die verlies van geliefdes aan die buiteland, en die daaropvolgende sindroom van 'n nimmereindigende 'afskeid neem-verlang-langafstand-kommunikasie-en-blye weersiens - net om weer totsiens te sê'...

Een van die hoogtepunte van ons nuwe lewensstyl, is egter 'n briefie soos die volgende :

Hello van ver!
....Die boodskappie is eintlik om hulp te vra. Soos julle seker al weet, is ons in die proses van mamma en pappa word. Toe ons daar by julle gekuier het, kon ons so lekker gesels oor sulke dinge en hoe belangrik dit is om kinders vir God groot te maak.

Nou met dit alles gesê, wil ek net vra vir raad en wat ek dalk kan gebruik vir goeie leerstof in voorbereiding. Ek weet dat God ons sal leer, maar so ook sê Hy in die Woord dat die ouer vrouens die jongeres moet leer. So tannie, ek vra asb vir goeie Goddelike insig en raad oor hoe om myself as mamma voor te berei...

Haar Afrikaans is glad nie sleg vir soveel jare in 'n vreemde wêreld nie, dink ek by myself as ek sit om te antwoord :
...Dit is baie lekker om so 'n briefie van jou te ontvang! En deel te kan neem aan die vreugde oor julle komende ouerskap. Mag hierdie tydjie vooraf deel wees van die vreugde en vervulling wat daarmee saamgaan. Dis veral verblydend dat jy dit so vrugbaar wil gebruik om jou beter voor te berei vir die koms en grootmaak van hierdie kosbare kindjie.
Jou vraag is moeiliker as wat dit op die oog af mag lyk Jy sê : my hulp wat ek vra is wat kan julle voorstel ek doen en wat ek kan lees of luister vir voorbereiding.
Ek wens ek kon vir jou 'n skema of voorskriffies gee wat maklik lyk. Daar is baie goeie boeke (en slegte boeke!) beskikbaar oor die onderwerp. Ek dink bv aan
1. Paul Tripp se boek en DVD-reeks oor ‘Shepherding a child’s heart’ en
2. Martha Peace se ‘The faithful parent – a Biblical guide to raising a family’ en
3. ‘Don’t let me count to ten’ en andere, waaroor die jong ouers soos my skoondigters wat besig is om kinders groot te maak, jou seker veel meer sal kan sê.
4. Kry die boekie van die Puritein JC Ryle, verniet op internet : ‘The duties of parents’. Dit is baie goeie raad en tydloos, soos die Bron waaruit dit kom.

Maar terwyl ek gewonder het oor hoe om jou briefie te beantwoord, was my grootste indruk dat ek jou moet terugverwys na die Woord van God self. Terwyl jy kans en tyd het om jou vir jou eersteling se koms voor te berei, posisioneer jouself op die beste manier moontlik ten opsigte van die Bybel.

1. Jy moet ten minste probeer om die Bybel elke jaar 1x deur te lees en sover moontlik elke dag (vroegoggend) stiltetyd te hou. Met 'n klein kind is dit nie altyd moontlik nie, maar hulle word groter en soms kan 'n mens dit op 'n ander tyd inpas as hulle jou toelaat. Op die oomblik kan jy nog. Google die woorde vd liedjie “I come to the garden alone” :
…the Voice I hear, falling on my ear, the Son of God discloses…
He speaks, and the sound of His voice is so sweet – the birds hush their singing…
Moet dit nie mis nie. Jy het dit nodig, jou man het dit nodig, jou kinders het dit nodig. Wat jy daar kry, direk by Hom, gaan jy neerskryf, en geurgee aan hulle, gaan jy toepas in jou optrede teenoor hulle, en gaan jou wysheid gee in elke situasie. Memoriseer belangrike tekste wat jou aanspreek, bid dit deur, leer dit vir jou kind as hy groter word.

2. En bid baie, voortdurend, oor alles. Neem as 'n beginpunt die gebede in Efesiers, en bid dit vir jouself, jou man, jou kind, die gelowiges. Bid saam met jou kind, oor alles. Van sy geboorte af : ‘In hierdie huis praat ons met Jesus oor alles, weet jy. Kom ons sê vir Hom dat…..’

Berei jouself voor om nie soseer vir jou kinders te 'preek' nie. Wandel met Jesus. Leer Hom beter en beter ken, sodat jou verhouding met Hom natuurlik kom, jy Hom vertrou vir klein en groot dinge, Hy 'n werklikheid is wat in julle huis LEEF en oor Wie jy dan kan praat. Godsdiens (diens aan God) verskuif dan primêr van formele onderrig na lewens-onderrig, wat hart en verstand en leefstyl alles integreer. Dit kan net gebeur as jy self by Hom uitkom, gereeld, biddend, gelowig en vertrouend; as jy self onder Sy genade en vergifnis bly leef, en jou krag put in die blydskap wat dit vir jou gee. ('Om in die Here jou vreugde te vind, gee vir jou krag' / ‘The joy of the Lord is your strength’, het Nehemia vir die mense gesê wat die mure van Jerusalem herbou het.)

3. Sorg dat jy leer hoe om jou denke te kontroleer, en leer dit dan vir jou kind. Maak seker dat jy die dinge uitgooi uit jou gedagtes wat dit besoedel en jou verhinder om die dinge te bedink wat van Bo is, en vervang dit dan met alles wat waar, rein, lieflik en Gods-vererend is. Susannah Wesley het 'n lewensleuse oor hierdie saak gehad : “She would not let wandering thoughts rob her of godly thinking…”


Oefen dit, want dit bepaal die ander aspekte van jou lewe. Leer jou kind van kleins af om dit te oefen, en sy denke voortdurend terug te plaas onder die kontrole van die Heilige Gees.


4. En ondersoek dan jou hart. Vra jouself af : ‘Het ek Jesus waarlik lief?’ Werk aan jou liefde vir Hom, meer as enige iets anders. Waar jou hart is, daar sal jou skat wees. Jou kind het nodig om 'n demonstrasie te sien van liefde vir God, wat liefde vir die naaste insluit natuurlik – soos wat ek myself het, en nie minder nie.

Ek hoop jy kom agter dat ons nie alles uit ander mense se boeke en ervarings kan kry nie. Die belangrikste lê by onsself – in 'n waaragtige verhouding met die lewende God self, en 'n leefstyl wat dit te alle tye eerste en belangrikste sien en najaag. Eers daarna verryk ons onsself verder met ander boeke ens. As jy hierdie orde omruil, kan jy vir die res van jou lewe op hoor-sê staatmaak en oënskynlik goed vaar daarmee, maar die BESTE mis. My raad aan jou is, hou hierdie prioriteite reg en begin by jouself.

Jy is welkom om verder met my in gesprek te tree. Ek hoop jy kry tog 'n idee oor hoe om jou dagprogram so te beplan, dat jy die doelwit wat jy vir jouself gestel het om jou kindjie vir God groot te maak, daardeur kan bereik. Om Susannah weer aan te haal : “There is nothing I desire to live for but to do some small service to my children, that, as I’ve brought them into the world, I may, if it please God, be an instrument of doing good to their souls.”

Mag die Here jou en jou man, wat Hy waardig geag het om hierdie kindjie aan toe te vertrou, verder toerus en gebruik om instrumente te wees wat goed doen aan sy siel!...





2 comments:

  1. Tannie se by punt nr 3 dat mens jou denke moet kontroleer en ook jou kindjie so moet oefen en denke moet terug plaas onder die kontole van die Heilige Gees? Hoe werk dit prakties met jou kind. Ek het my kleintjies by my so ons kan seker heeldag oefen ek sal graag ook wil weet hoe kan mammas dit oefen wat se kindertjies in die kleuterskool is. Dankie Tannie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Wow Tanya! Ek gaan jou kry om die fyn skrif te ontsyfer op 'n dokument, sou ek so 'n interpreteerder ooit nodig kry...!
      Hoe langer ek leef, hoe meer kom ek onder die indruk van die belangrikheid van hierdie tema en dus van jou vraag. Ek hardloop op die oomblik met (te) vinnige tekkies, soos die meeste van ons maar. Jammer dat ek nou eers respondeer, maar ek wil nie my antwoord afjaag nie, dus gaan ek dit gee op die volgende post, as jy nie omgee nie. Of eintlik moet ek sê, ons sal die eerste aflewering daarvan dan behandel. Ek sal jou kortliks antwoord en dan kan ons die gesprek daarvandaan voortsit, sou daar 'n behoefte wees.Genoeg om te sê, as ek my kinders weer kon grootmaak, is hierdie die saak wat ek die graagste meer aandag aan sou wou gee, maar op daardie stadium moes ek eers self 'n student word van die onderwerp. Vandag is dit deel van my passie om met julle jong ouers te deel wat ek geleer het en self moes leer toepas en oefen in my lewe. 'n Mens kan immers niks gee wat jy nie het nie. Liefde tot later - sal hopelik nog vandag by daardie post uitkom!

      Delete