Hier is die oorspronklike kaart waarvandaan Mariëtte haar kaart afgeteken het, met hierdie briefie daarby :
Liewe Alta,
Ek het vandag weer geleer dat ek die Heilige Gees moet vertrou om goed te
onthou. Die Here wat ons gemaak het weet dat hoe ouer ons word, ons meer gaan
vergeet en dat ons Hom nodig het om Sy werk te onthou. Die Engelse sê dit so
mooi: to bring it to rememberance.
Ek het die oorspronklike boek op die internet
gaan soek waar die kaart in was en glo my, as jy teen meer as 7000 boeke van
Pilgrim's Progress moet gaan soek en jy kan nie eers onthou hoe die buiteblad
gelyk het nie, omdat dit al meer as 10 jaar gelede was, kan die 'onthou' net van
die Here af kom. Ongelukkig moet ek dit in 2 dele scan, my scanner is nie groot
genoeg om die hele kaart op een bladsy te kry nie en op die manier kan 'n mens
mooier sien wat aangaan.
Al die eer aan die Here!
Nou toe, wie gaan vir ons 'n Afrikaanse enetjie aanstuur?
En laat weet hoe dit langs die pad gaan.
Soos my skoondogter wat op my navraag o.a. rapporteer :
"Ek kan nie nou meer woordeliks onthou, of die hele gesprek onthou nie, maar die meisies was in die stad Ydelheid en Anel het Leanie probeer oortuig om saam met haar na die Hemelstad
te gaan. Maar Leanie sê daars nie so 'n stad nie en dis baie lekker in Ydelheid... Anel verduidelik toe net hoe sleg dit is in Ydelheid en dat sy liewer gou moet besluit om daar uit te kom, anders sal sy nooit in die Hemelstad kan kom nie..."
Ek onthou ook hoe twee van my ander kleinkinders vroeër op dieselfde ouderdom (ongeveer 4 en 6 jr onderskeidelik) gespeel het, toe Shaun op 'n stadium vir Lenay diep ongelukkig maak. Sy kyk hom so nadenkend aan en merk sonder skroom op :
"Oooo, dit lyk my daardie sondelas daar op jou rug pla jou darem baie vandag ...!"
'n Geseënde pelgrimsreis vir julle elkeen!
En mag ons mekaar dikwels daar aan die voet van die kruis ontmoet, waar ons ontslae kan raak van die swaar laste op ons rug.
No comments:
Post a Comment