Hierdie is deel van 'n briefie wat ek vir 'n paar ma's gestuur het na aanleiding van die probleem van oneerlikheid by kinders. Kinders wat steel/leuens vertel/manipulerend is, is nie aan ons onbekend nie. Trouens, dit sluit ons almal sekerlik in, as ons ons eie harte leer ken en die manifestasie van dieselfde sondige natuur sien in die lewens van ons kinders.
Miskien
kry julle van die beginsels nodig, nie net vir julself nie, maar ook vir
ander wat praktiese raad soek.
Ek gee die hoofgedagtes, die Skrifgedeeltes moet 'n mens eers
biddend deurwerk en aanvul. Dan moet jy die Heilige Gees vra om jou te help om dit baie
prakties te kan toepas op die besondere kind se vlak en omstandighede.
Heel eeste is dit belangrik om te verstaan hoe God hierdie sake beoordeel,
anders kan ouers nie die nodige dringendheid en geestelike motivering kry om
daadwerklik daarteen op te tree in die krag en in die Naam van die Here Jesus nie.
1. STEEL = heb-sug = 'n sug om meer en meer te wil
hê.
*Wat sê God daarvan?
OT : Ex 20:15, Lev
19:11-13a, Luk 12:15&21 en 33&34
Gedeeltes uit die NT soos Ef 4:28, 2 Thes 3:10 en Luk 19:8-10 kan help.
*Hoe kan ons die beginsels van hierdie Skrifuitsprake prakties toepas?
Dit lyk vir my ons kan hieruit 'n skema saamstel wat min of meer so lyk:
Werk → Eet → Gee → Teruggee/Restitusie (die pyltjies beteken : die een lei na die
ander)
Dit is natuurlik nie so maklik uitvoerbaar met 'n kind nie, maar kom ons probeer.
a. 'n Mens kan begin deur bv sekere reëlings in die huis te hê waardeur die kinders leer om enersyds sekere dinge in die huis 'verniet' te doen en andersyds vir sekere goed te werk en nie alles net verniet te kry nie.
Sekere
take word natuurlik bloot gedoen vir die voorreg om deel te wees van die gesin, bv alle
skottelgoed wat jy vuilmaak, plaas jy self in die skottelgoedwasser/wasbak; klere hoort
of in die kas, of in die wasgoedmandjie; jy help mamma om inkopies uit die kar in die huis
in te dra, en jy leer wat die Prediker bedoel as hy sê : "Doen wat jou hand vind om te doen", maw jy help met algemene opruiming en leefbaar-maak van die beweegruimtes sodat almal gelukkig saam kan leef; ens.
b. Straf vir geen samewerking in hierdie verband nie, is die wegneem
van voorregte of wat die ouers ookal toepaslik vind. Daarbenewens geld die
bogenoemde skema, bv : "Ek sien jy't nie jou vuil klere versorg nie - geen kos voordat jy
jou werkies afgehandel het nie. Hier staan jou kos en wag vir jou. Gaan maak eers klaar, dan kom eet jy." (Die beginsel is 2 Thes 3:10 : Wie nie werk nie, mag nie eet nie.)
c. Ander take kan beloning verdien (in verhouding), sodat alles nie net sonder inspanning kom en daar geen werks- en waarde-etiek kan ontwikkel nie. Daarvan word 'n tiende opsy gesit om vir die Here se saak te leer gee.
d. Of : Ek het uitgevind jy het dit en dit gevat/gesteel, wat nie aan jou behoort nie. Ek gaan vir jou hierdie en hierdie werk gee om te doen, sodat jy dit kan teruggee.... OF Wat se werk gaan jy doen, sodat jy dit kan teruggee...? ; Wat gaan jy verder (as restitusie) gee van jou besittings wat vir jou kosbaar is? (Die teruggee kan selfs meer/dubbel wees van wat gesteel is. Dit moet seer maak/aan die lyf gevoel word, anders kan die seer wat die stelery veroorsaak het, nie ingesien en 'gevoel' word nie.)
'n Goue reël met kinders is ook dat jy nie toelaat dat hulle
enige 'geskenke' van enigeen soos skoolmaats of ander grootmense ontvang waaroor
jy nie kennis en beheer het nie. Maw verjaardag- of kersgeskenke en iets van
ouma/oupa of tannie/oom, is gekontroleerde en aanvaarbare geskenke wat by jou as
ouer verbykom en goedgekeur word.
My kinders moes - met 'n swaar gemoed!
- selfs 'n uitveër of oënskynlik onbenullige besitting, en definitief geld en waardevolle items, gaan teruggee by die skool.
Hoekom?
So leer hulle om nie omkoopbaar te wees nie, en natuurlik om nie iets uit iemand
te manipuleer nie, en om nie morele verpligtinge teenoor iemand te ontwikkel
nie.
Jy verduidelik dan: "Daardie kind se mamma en pappa het dit nie vir hom gegee om
weg te gee nie, en as hulle dit graag vir jou wil gee, moet hulle eers met jou mamma/pappa kom praat daaroor. Dan weet ons dit dra hulle goedkeuring ook weg."
2. JOK = bedrieg ander, om eie wil en begeertes te voed.
* Wat sê God daarvan?
Ps 101:7, Spr 19:5,
Openb 21:27 & 22:15, selfs 1Thes 4:6&8 in ander konteks, verduidelik ook
hoe God voel oor bedrog van 'n broer; Kol 3:9&10; Rom
9:1,Ef4:25
* Hoe moet dit hanteer word?
Baie van bogenoemde geld
ook hier - in verhouding tot die omstandighede, moet straf wat voelbaar en
pynlik is, uitgedeel word, terwyl die terugkeer na die waarheid groot
beloning/waardering moet kry - nie in GOED/DINGE nie, maar in herstelde
verhoudinge en vreugde en gesamentlike feesviering wat die kind so kan verstaan
(bv ons braai marshmellows by kerslig saam, of hou speletjiesaand saam of lê en
sterrekyk saam of iets wat almal saam geniet - vgl die beginsel in 1 Joh 1:6&7)
Die rede/wortel van die leuens moet gesoek word en in die lig van die waarheid hanteer word. Die kind moet gehelp word om bewustelik en eksplisiet daarvan afstand te doen en dit met die teenoorgestelde, nl met die ooreenstemmende waarheid, te vervang. (Ons vat niks in ons huis wat van die duiwel af kom nie. Hy is die vader van die leuen - Joh 8:44. Ons vat net wat van die Heilige Gees af kom - Joh 16:13, en wat die Here Jesus vir ons wil wees - Joh 14:6.)
Die rede/wortel van die leuens moet gesoek word en in die lig van die waarheid hanteer word. Die kind moet gehelp word om bewustelik en eksplisiet daarvan afstand te doen en dit met die teenoorgestelde, nl met die ooreenstemmende waarheid, te vervang. (Ons vat niks in ons huis wat van die duiwel af kom nie. Hy is die vader van die leuen - Joh 8:44. Ons vat net wat van die Heilige Gees af kom - Joh 16:13, en wat die Here Jesus vir ons wil wees - Joh 14:6.)
3. MANIPULASIE = ook maar bedrog/werk met valsheid en skynheiligheid : dit hou iets anders as die waarheid voor om iemand anders te dwing om te doen wat jy wil hê.
Dis nodig om die waarheid agter die manipulatiewe gedrag te onderskei, en dan
daarmee te werk, eerder as om toe te laat om gemanipuleer te word. (Dogtertjies,
veral, is baie goed daarmee om met hul oulikheid en aanvalligheid te manipuleer,
veral ook hul pa's! Dan word hulle 'n 'liewe heksie'... en verfyn dit tot 'n kuns namate hulle volwasse word. Sulke manipulatiewe lewensmaats bring groot huweliksprobleme en geen godvrugtigheid - Engels godliness - voort nie!)
In my werk met vrouens
het ek gevind dat die Here 'n mens 'n fyn aanvoeling leer vir manipulasie, en
dat jy onder geen omstandighede daaraan moet toegee as jy die heil van daardie
persoon op die hart dra nie. Dis baie belangrik vir ouers ook. Bv :
"Ek is so lief vir mamma....Ek wil daardie pop hê..../ My maag pyn....ek wil nie kerk toe gaan nie..." Oorvereenvoudigde voorbeelde om die sáák te illustreer. Wat nou gemaak?
"Ek hoor wat jy sê en ek dink dis ....(wat die waarheid ook al mag wees)... hoekom jy so sê. Wat dink jy?..." En kyk of jy jou kind kan begelei om by die waarheid agter sy manipulatiewe gedrag uit te kom.
"Omdat ek weet wat die beste vir jou is, gaan ek nou besluit om....."
"Ek is so lief vir mamma....Ek wil daardie pop hê..../ My maag pyn....ek wil nie kerk toe gaan nie..." Oorvereenvoudigde voorbeelde om die sáák te illustreer. Wat nou gemaak?
"Ek hoor wat jy sê en ek dink dis ....(wat die waarheid ook al mag wees)... hoekom jy so sê. Wat dink jy?..." En kyk of jy jou kind kan begelei om by die waarheid agter sy manipulatiewe gedrag uit te kom.
"Omdat ek weet wat die beste vir jou is, gaan ek nou besluit om....."
Ouers wat manipuleerbaar is deur hulle kinders, word oorgegee aan die wil-lekeur van hul kinders en is nie in die posisie wat God aan hulle toegeken het en van hulle verwag nie. 'n Mens is die god van sy eie lewe en moet geleer word om daardie troon prys te gee aan hoër gesag, wat uiteindelik die gesag van God moet wees, sodat Hy alleen daardie troon kan toeëien en oor daardie lewe kan heers.
4. 'n Paar ALGEMENE BEGINSELS:
4.1 BEDERF = verrot; sleg word/maak.
Hou op bederf!
Het ek dit gesê? Hou op bederf!
Het ek dit hard genoeg gesê? HOU OP BEDERF!
Dit mag nodig wees dat ouers 'n slag deur
Spreuke gaan en kyk in watter opsigte is hulle nie gehoorsaam aan die
opvoedings-voorskrifte daarin nie. So kan hulle agterkom waar en hoe hulle hul
kind bederf, wat hulle moet bely en dadelik moet begin regstel.
ASSEBLIEF - verstaan tog as dit van toepassing is op jou : bederf berei jou kind voor vir die verderf. Moet dit nie doen nie.
Begelei hom/haar na Jesus toe!
Begelei hom/haar na Jesus toe!
4.2 Dwing reëls
konsekwent af. (Maak min maar noodsaaklike reëls) en kry 'n kontrole-sisteem in
plek daarvoor.
4.3 Straf moet
konsekwent en liefdevol en begeleidend wees.
Die kind moet verstaan dat dit die Here is wat hom regeer deur
sy ouers, en dat ongehoorsaamheid aan die ouers eintlik ongehoorsaamheid aan Hom
is. En as die Here vind dat die ouers nie goeie verteenwoordigers van Sy gesag
oor die kind is nie, mag God direk ingryp, en dan gaan dit gewoonlik baie
moeiliker met die kind as wanneer die ouers met hom werk! - en dit moet die
ouers veral, goed begryp en tot verantwoordelike optrede teenoor hul kinders maan.
4.4 Begrip vir die oortreding en belydenis en herstelde verhoudinge moet die saak elke keer afhandel.
4.5 Bid vir en saam met jou kind. Laat hom/haar swem en leef en veilig voel in jou gebede.
Spr 14:26 bly maar waar! : Wie die Here dien, het
daarin 'n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar
skuiling.
Ek hoop dit kan vir iemand in jul lewe help. Laat weet as ek myself nie duidelik genoeg en prakties genoeg uitgedruk het nie. Baie van die dinge weet 'n mens, maar die probleem kom telkens by die praktiese toepassing. Die mate waarin ouers/die ma wat die meeste van haar tyd met die kinders besig is, daarin slaag om dit reg te kry, bepaal of sy haar kind kan oefen op die weg waarop hy moet gaan, sodat hy ook as hy groot is, nie daarvan afwyk nie.. (Spr 22:6)
Sterkte en seën met die groot opvoedingstake!
No comments:
Post a Comment