Pages

Sunday, 31 August 2014

Dinosourusse : miljoene jare gelede? (2)


In 'n vroeëre post, van 28 Junie, het ek Meline se briefie begin beantwoord oor die onderwerp van Dinosaurusse en die Ystydperk. Haar vriendin se vraag was "hoe dinosaurs en iets soos die 'ice age' in God se skepping inpas as dit miljoene jare gelede was."

Kyk mooi na hierdie vraag. Daar is twee veronderstellings wat albei aanvaar word : 
1. God het geskep (in 'n kort tydperk - 6 dae). 
2. Dinosaurusse en die ystydperk is bewyse van 'n baie ou aarde met baie lang evoluerings-
    prosesse (oor 'n baie lang tyd - miljoene jare).

Omdat die twee stellings wedersyds uitsluitend is, bring dit 'n logiese probleem mee : watter een is nou waar? of waar verstaan ek dit nou nie reg nie? of hoe moet ek nou die twee 'waarhede' versoen kry? *

Ons tweeledige vraag hierbo vra van ons rekenskap tov albei sake :

Eerstens : Het God geskep?  
Die antwoord op hierdie vraag is ononderhandelbaar in terme van ons fondament : ons geloof in God en die onfeilbaarheid van die Bybel as foutloos en tydloos waar. (Dit is op sigself 'n studieveld wat nagevors kan word en waarvoor daar reeds baie bewyse geboekstaaf is indien jy een van daardie ondersoekers is wat nodig het om al die bewyse na te gaan voordat jy dit kan glo.) Gen 1 is baie duidelik oor God se skepping. In die begin het God die hemel en die aarde geskape, in 6 dae, geskei van mekaar deur 'en dit was aand en dit was môre, die ...(volgende)...dag.' Die res van die Bybel bevestig dit op baie plekke en maniere, in verskillende kontekste. **

Tweedens : Het dinosaurusse en die ystydperk miljoene jare gelede op die aarde verskyn?
Hierna moet ons ondersoek instel en gefundeerde antwoorde probeer vind met die nodige inligting tot ons beskikking.
 Daar is bv baie bewyse van die bestaan van dinosaurusse, met die vele skelette wat reeds opgegrawe is. Hoekom praat die Bybel dan nie van hierdie diere nie? 
Die woord 'dinosaurus' is eers so laat in die geskiedenis geskep soos in 1841, deur 'n Britse wetenskaplike met die naam van Richard Owen. Hy het die twee Griekse woorde 'deinos' en 'sauros' saamgevoeg, wat letterlik beteken : 'geweldige / verskriklike akkedis'.
Die Bybel en alle getuienis uit van die oudste en meer resente beskawings, ken wel woorde soos draak, monster en Leviatan. *** 
Volgens alle beskrywings en voorstellings daarvan, is dit massiewe, wrede reptiele wat punt vir punt ooreenkom met wat die moderne wetenskap vandag 'dinosaurusse' noem. ****
En dieselfde moderne wetenskaplike navorsing het in resente tye - tot sy eie verleentheid - ontdek dat daar rooibloed-selle in die been van vele dinosaurus-skelette is. Dit beteken dat hulle onmoontlik miljoene jare gelede kon leef, maar saam met die mense op aarde geleef het, en dit nie só lank gelede nie.

Te midde van hierdie onomstootlike bewyse, soek evolusie-wetenskaplikes na ander oorsake, aangesien hulle, volgens hulle eie getuienis, nie kan 'glo' in 'n jong aarde nie.*****  
Dit is weer eens 'n bevestiging van die stelling : "Ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek, voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging."

Wat het dan van dinosaurusse geword? Waarom leef hulle nie meer tussen ons as hulle nie 'miljoene jare gelede' reeds uitgesterf het nie? Skeppings-wetenskaplikes vind baie antwoorde op soortgelyke vrae in die verskynsel van 'n wêreld-wye watervloed - wat natuurlik in die Bybel te vind is in die sondvloed, in Noag se tyd. As 'n mens daarin glo, is dit maklik om van daardie feit af na die gegewens op die tafel te gaan kyk en dit in daardie lig te verklaar. *****
Kortliks kom die antwoord van Skeppings-wetenskaplikes daarop neer dat daar skielik geweldige watermassa's tydens die sondvloed vrygestel is. Hierdie water het nie net van bo af neergereën nie, maar het ook vanuit die onderaardse dieptes uitgebars. Dit het vervolgens groot getalle diere, waaronder die dinosaurusse, in 'n kort tydjie meegesleur en onder modderwater begrawe, waar hulle vinnig dood is en kon versteen sonder dat daar vinnige verweer kon plaasvind. Dit verklaar ook die 'massagrafte' op verskillende plekke in die wêreld, asook die besonder goeie preservering van fossiele , selfs in sekere gevalle nog met groen blare in hul bekke of in die geboorte-proses.


Soos wat wetenskaplike kennis eksponensieel toeneem gedurende ons leeftyd, raak dit al hoe duideliker en makliker vir Christen-wetenskaplikes om die geloofwaardigheid van die Bybelse Skeppings-verhaal te verdedig teenoor die spekulasies van die evolusie-teorie.  

Is die skeppings-geloof ook 'n teorie? As dit deur ménse uitgedink is, ja.
As dit deur God as feite aan die mens geopenbaar en verkondig word, nee.

Die vraag is : Gló ek dit? 
Sal dit my verwysingsraamwerk rigting-gewend beïnvloed? 
Sal ek vir myself en my kinders 'n posisie daarin kan vind van waaruit ons die wêreld kan interpreteer? 
Ons uitdaging is om intelligent, ingelig en ywerig te wees om andersdenkendes so te ontmoet, dat ons onsself en hulle kan aanmoedig tot dieper soeke na antwoorde en die waarheid. 

Die Ystydperk kom 'n volgende keer aan die beurt.



Ons het in ons vorige praatjie 'n uitgangspunt geformuleer wat vir ons kinders 'n raamwerk kan skep waarbinne hulle onderwerpe soos hierdie kan ondersoek sonder om onnodige gevaar te loop dat hulle hul geloof in die bestaan van die Skepper-God sal kompromiteer of prysgee. Kinders, veral, is baie beïnvloedbaar. Dit is dus nodig dat ons van kleins af vir hulle 'n verwysingsraamwerk skep waarbinne hulle sinvol kan leef en van waaruit hulle die buitewêreld kan bekyk en verwerk. 
Sommige mense kan 'n probleem daarmee hê en voel dat dit nie objektief genoeg is vir wetenskaplike ondersoek nie. Die feit van die saak is egter dat alle ondersoeke, insluitend wetenskaplike ondersoeke, uitgaan van wat ons noem voor-veronderstellings. Met ander woorde ons kom met ons veronderstellings na die ondersoek voordat dit getoets kan word, want dit het te make met 'n geloofs-oortuiging
Onthou dus : 'n Voorveronderstelling word altyd gebou op die fondament van 'n geloofs-posisie of -standpunt, en dit skep vir ons die raamwerk waarbinne ons die omringende wêreld benader en interpreteer.
Toegepas op ons onderwerp : Ek glo dat die Bybel waar is en dat die God van die Bybel die Skepper en Onderhouer is van wat Hy geskep het. Met hierdie geloofs-raamwerk as fondamentveronderstel ek sekere dinge as waar/onwaar, en gaan ondersoek ek nou die gegewens tot my beskikking en vra hoe dit inpas in hierdie raamwerk.

**     Bv. Ps 19:2 & Ps 104; Jer 10:12 & 51:15-19; Rom 1:20; Joh 1:2&3; Heb 11:3
***    Bv Ps 74:13&14 en Jes 27:1en Job 40
****  Sien 'Dragons or Dinosaurs? Creation or Evolution? deur Darek Isaacs, pp 15&16
       Tanya het na ons eerste praatjie oor hierdie onderwerp die webadres van CMI (Creation
       Ministeries International aanbeveel. Ek gee dit net weer hier.
      www.creation.com, asook die volgende 'links' :
      http://creation.com/dinosaur-questions-and-answers
       http://creation.com/mammoth-riddle-of-the-ice-age
       http://creation.com/images/pdfs/cabook/chapter16.pdf
      Kyk gerus ook na hulle U-Tube video oor 'The Bible and dinosaurs'.

***** Om dit nie te glo nie, maak die idee van 'n wêreldwye vloed as deur na antwoorde in die ondersoek tóé, en moet ander torieë en 'bewyse' gevind word om die verskynsels te verklaar. 
Die mees aanvaarde maar onbewysbare 'bewys', is die geloof in lang tydperke/lang TYD. 'Miljoene jare gelede' is nie 'n konsep wat bewysbaar of ondersoekbaar of wetenskaplik navorsbaar is nie. 
Dit gaan nie in die Skeppings-Evolusie-debat oor godsdiens teenoor wetenskap nie, maar wel oor een geloofsoortuiging teenoor 'n ander.
Evolusie en lang tydperke/miljoene jare is 'n teorie wat deur mense uitgedink is en wat aanvaar moet word as iets waarin jy glo, sodat gegewens wat nie op 'n ander manier verklaar kan word nie, daarin geplaas en geïnterpreteer kan word. Die bewyse wat aangevoer word, mag oortuigend klink vir onnadenkende en oningeligte mense, en word aanvaar deur vele denkende, ingeligte natuur-wetenskaplikes, nie op grond van die oortuigingskrag van die bewyse nie, maar op grond van die geloofs-raamwerk van waaruit hulle werk. Vandaar die opkoms van die Evolusie-teorie oor die afgelope eeu, as 'wetenskaplike' model.




Friday, 22 August 2014

Wees versigtig en paraat met jou denke (3)

In ons vorige aflewering oor die belangrikheid daarvan om ons denke te beheer en te oefen, het ons skema'tjie oor die drie hoofstappe so gelyk :
(1) GEDAGTES  lei tot iets wat ek
(2) GLO.  Ek glo dit net omdat ek van mening is dat dit WAAR is. Niemand glo immers iets wat hy meen 'n leuen is nie. En hierdie geloof lei tot iets wat ek op grond daarvan
(3) IS/DOEN.
Ek het die artikel afgesluit met die opmerking : "Tussen die drie hoofstappe, naamlik tussen stappe 1 en 2, en tussen stappe 2 en 3, is daar telkens 'n stap wat ons maklik miskyk, maar wat aandag moet kry. Omdat ons hierdie tussen-in stappe nie raaksien en aktief daaraan aandag gee nie, besef ons nie hoe maklik hulle ons pootjie en goeie voornemens laat misluk nie." 
Vandag hervat ek dus met hierdie beloofde tussen-in stappe. Ek vertrou dit maak nie net ons skema'tjie volledig nie, maar help julle wat julle kinders (of julleself!) wil leer oefen om hul 'dink-koppies' reg te gebruik, ook met meer instrumente in jul hand.

Tussen nrs 1 en 2 
Ons sê maar dit is nr 1 ½ = Die Waarheids-TOETS.
Toets eers daardie gedagte. Is dit régtig waar?  Eers dan mag ek dit as waar aanvaar, en dit glo.

Het ek God lief? Ja? Hoe posisioneer ek my dan ten opsigte van die waarheid?

Dit is 'n vraag wat ons onsself móét afvra en waarop 'n baie duidelike antwoord van kardinale belang is. Meer nog. Ons kinders moet van kleinsaf  gevorm word met, soos wat een van ons seuns dit stel, " 'n pássie vir die waarheid".
Ons leef in 'n tyd waarin waarheid relatief geword het. Ons hedendaagse lewens-en wêreld-beskouing redeneer so : "Wat waar is vir jou, is nie noodwendig waar vir my nie. Maar ons albei kan die waarheid beet hê, al is ons menings presies die teenoorgestelde van mekaar, want daar is nie net een, uiteindelike (ultimate) waarheid nie."
Onthou om jouself en jou kinders in hierdie klimaat voortdurend te herinner aan die eeue-oue Bybelse beginsel : Waarheid gaan bo en buitekant die mens uit (transendeer ons). Die gevalle, sondige mens het nie 'n natuurlike liefde vir die waarheid nie, maar eerder 'n diepgewortelde haat vir die waarheid/liefde vir die leuen.

Waar laat dit ons as gelowiges ten opsigte van die waarheid? In ons nuwe lewe in Christus. Vir ons geld vervolgens 'n nuwe beginsel : Liefde vir God en liefde vir die waarheid gaan hand aan hand. 
Is dit 'n gedagte waarmee ons kinders en jongmense vertroud is, omdat hulle dit van moedersmelk af inkry? Ek betwyfel dit, want ek sien nie baie wat 'n passie het vir die waarheid en dit met ywer soek nie.

Hoe begin ons leuens glo as die waarheid, sonder om dit te besef?
Wanneer ons nie elke gedagte wat ons glo, toets nie!

Hoe weet ek wanneer ek by die waarheid is? Wat verstaan ons onder "waarheid"?
Eerstens, het ons die waarheid van die Bybel. Dit word nie bevraagteken nie, maar aanvaar en gehoorsaam. Daarom moet ons kennis hê van die Bybel. (Leer ons ons kinders om die Bybel elke jaar een maal deur te lees? Nie? Dan raak dit tyd om te begin!)
Die Woord is waar, en
Jesus, die mens-geworde Woord, IS die waarheid, en
Sy Gees, die Heilige Gees, is 'n Gees van waarheid. Hy leer en lei ons in die waarheid, en
'n Bybel-getroue gemeente/kerk met suiwer Woordverkondiging is 'n draer en beskermer van die waarheid. Die gemeenskap van sulke gelowiges skep 'n noodsaaklike kontrole vir waarheidsgetuienis en -instandhouding.
Gods Woord is dus ons maatstaf en die enigste onfeilbare Bron van waarheid, waarmee ons ons voortdurend moet besig hou en ons gedagtes mee moet vul. Dit is die enigste manier waarop ons denke deur die Heilige Gees vernuwe kan word om die goeie en volmaakte wil van God te onderskei en te ken.

Tweedens, soek ons na die waarheid in objektiewe feite en omstandighede.
Byvoorbeeld : 'Wat het régtig gebeur?'
Vra vrae en kontroleer/toets d werklikheids-getrouheid van 'n idee of berig oor wat gebeur het. Ons kan nie bekostig om ons eie idees te huisves oor 'n situasie of gebeurlikheid, wat ons gekonstrueer het met 'n mengsel van onwaarhede en halwe waarhede nie. Ek moet seker maak dat ek dit as waar kan aanvaar, voordat ek met my interpretasie van 'n saak begin werk.
Al veroorsaak dit pyn of ongemak? Ja, al veroorsaak dit pyn of ongemak. Want my liefde vir die waarheid is meer diepgewortel as my liefde vir my eie aannames en idees en oortuigings. My liefde vir die waarheid en my liefde vir God gaan mos hand aan hand.

Derdens, moet die Woord se waarhede TOEGEPAS word in daardie feitelike omstandighede of situasies. Of anders gestel : Die gebeure moet ondersoek en geïnterpreteer word in die lig van God se Woord. Eers dan kan ek dit evalueer en besluit of en watter soort korreksies aangebring behoort te word.
Met ander woorde, ons moet nie net die Woord intellektuéél ken nie, al begin ons daar. Ons moet dit laat práát met 'n lewenspraktyk wat die toets van die werklikheid deurstaan het.

Tussen nrs 2 en 3
Ons noem dit maar 2 ½ = Die WIL.

 Ek noem dit My 'WILs-deurtjie'.




Hy het nie 'n outomatiese stelling nie.

             Hy het ook nie 'n onmoontlike slot nie.                       




Ek moet hom vry-WIL- lig oopstoot  
en daardeur ingaan, of hy bly toe.  






                                                                                                                


Matthew Henry verwys in sy kommentaar op Rom 1:2 na die krag van die wil as "that absolute despotic power which the will has over the body and all its members".
Doen ons altyd wat ons gló goed en waar is? Nee.
Gebruik ek my wil altyd om wat ek gló vir my goed is, te doen? Nee.

Ons ly tot 'n baie groter mate as wat ons besef, aan passiwiteit in ons denke en gedrag. Die wil(-skrag) ontbreek/word nie gebruik nie, om aktief toe te tree tot gesonde denkprosesse wat die waarheid soek, en wat dit dan implimenteer in 'n gesonde, godvrugtige leefstyl.

Hoe lyk ons vollediger skema dus nou?

1      =  GEDAGTES 
1 ½  =  Die TOETS vir die waarheid van hierdie gedagtes 
2      =  GLO dat die idee/gedagte waar is
2 ½  =  WIL aktief raak en dit implimenteer
3       =  DOEN dit wat ek glo waar is
                                                                                
Wanneer ek die twee tussen-in, meer  BEWUSTE stappe uitlaat, nl die TOETS en die WIL,
verloop die proses so te sê OUTOMATIES : wat ek dink, aanvaar ek as waar, en dit word 'n optrede/daad. So ontwikkel 'n leefwyse wat deurvleg is met goed wat ek glo, wat nie noodwendig waar is nie, wat halwe waarhede bevat, maar wat my optrede deurslaggewend bepaal. 
Ek moet hierdie outomatiese en destruktiewe proses WIL omkeer en die gepaardgaande moeite WIL doen, voordat dit sal verander.

Hoe nou verstaan? Kan ek iets daaraan doen wanneer dit God alleen is wat daardie iets in my tot stand kan bring?
Ja. Die opdragte van die Bybel en my gehoorsaamheid daaraan is onontkombaar. Ek moet 'my deel' doen, en dit is om die genade-middele wat Hy aan my beskikbaar gestel het, te gebruik.
Wat is hierdie genade-middele? Daar is baie middele waardeur die Here wil werk en wat Hy tot ons beskikking stel, maar in aansluiting by ons tema wil ek hier net verwys na die volgende.
Die beheer van my denk-prosesse in my brein, as die beheersentrum van my liggaam en al my fakulteite, is byvoorbeeld 'n genade-middel wat ek ontvang het. Ek moet dit gebruik!
'n Gelowige, toegewyde ouer wat haar/sy kinders wil grootmaak vir die Here, is 'n genade-middel van die Here in hul lewens. Ek moet dit gebruik tot hul siele-heil!

Ek kan nie die wedergeboorte van my kind se hart bewerkstellig nie; ek kan sy hart voed met alles wat hy nodig het om te weet van dié God wat 'n hart van klip kan opwek tot 'n hart van vleis en bloed wat Hom kan liefhê.
Ek kan nie my kind se ou sondige natuur vernietig nie; ek kan hom bekendstel aan die kruis van Jesus waar daardie natuur vasgespyker kan word.
Ek kan nie my kind se talente skep nie; ek kan hom help om sy talente in 'n rigting te ontwikkel wat geestelik opbou en die Skepper daarvan verheerlik.
Ek kan nie sy voorkeure en natuurlike aptyt bepaal nie; ek kan vaardig raak in planne om sy natuurlike smake te omvorm deur nuwe aptyte te oefen, totdat dit wat goed is vir hom en wat vir God aanneemlik is,
ook vir hom bekend en bemind raak.
Ek kan nie sy uiteindelike lewensstyl bepaal nie, maar ek kan hom voorstel aan die standaarde van die Bybel en vir hom illustreer hoe om dit as riglyne te gebruik om 'n leefstyl te stileer volgens die eise van Gods Woord. So leer ons om eerbaar te leef, in respek vir God, in Wie se teenwoordigheid ons bestaan.
So laat ons ons natuurlike geneigdhede en voorliefdes verskuif van wat wêrelds en self-gesentreerd en eie-willig is, na wat God wil en Hom behaag. So groei ons in heiligheid en begrip van die dinge waarmee ons ons denke moet vul.

Om Matthew Henry weer aan te haal, in aansluiting by Rom 12:1&2 wat sê, "Gee julleself as lewende, heilige offers... Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe..."

                                             It must be a free-will offering....
Lay your souls under the changing transforming influences of the blessed Spirit; 
seek unto God for grace in the use of all the means of grace. 
Though the new man be created of God, yet we must put it on (Eph 4:24).  

Misluk ons goeie voornemens al te dikwels? Kom ons gaan kyk dan watter stap(-pe) het nog nooit genoeg aandag gekry nie, en begin hulle oefen. Ons durf hulle nie toelaat om ons aanhoudend te pootjie nie. Laat ons dan met groter moed en daadkrag toetree tot die hoë roeping en uitdaging om onsself vry-wil-lig te offer en om ons denke voortdurend te vernuwe onder die kragtige hand van God, met die waarheid as vaandel van lig wat ons lei.





Wednesday, 13 August 2014

Kleipotte Breek


Haar naam is Palaza. Sy’s 'n ma, 'n tuinwerker, 'n ongeletterde, ongeskoolde arbeider in ons diens in die beginjare van ons huwelikslewe. Sy werk in ons tuin, verrimpel deur die Afrika-son en verweer in wind en weer. Ons oudste, vroeg-vroeg stewig op sy twee beentjies, hardloop gou buite rond en 'n geswore vriendskap ontwikkel tussen die twee. So word Palaza ‘Patatta’.
Sy ken die veld en die krag van die elemente. Sy ken die gevare van insekte en wilde diere en sy ken die noodsaak en skaarste van water en kos. Sy ken gras en hout en klei en gebreide velle, en verstaan hoe om dit in mandjies, kommetjies, bakke, speelgoed en klere-afskortings of komberse te verwerk. Maar plastiek en yster en glas is nie deel van haar ervarings-wêreld nie. Sy kan dit nie waardeer nie en sy stel nie belang om dit op te pas nie. Gevolglik word ons sterk plastiek-gieter soos sagte klei in haar hande. In plaas van 'n gemaklike sproei-reëntjie wat voor uit die tuit uitspuit om dorstige plante te voed, stroom water teen onbeheersde spoed uit elke skeur en gat wat reg rondom die gieter sigbaar word. 
Ons seuntjie klap vreugdevol sy hande voor dié waterryke ervaring. 
Ons staan verstom... “Hoe is dit moontlik??”  
Haar antwoord : “Daardie klein gaatjies beteken niks. Die plante ly droogte. Hulle soek baie meer kos.”  

En so word Palaza 'n simbool in ons huis, van die noodsaak en die sin van gebrokenheid in 'n onvolmaakte, sonde-vervloekte wêreld.

Die afgelope  dae het ek myself weer eens gesien in Palaza se gieter. Meer as drie weke gelede moes ek 'n beenoperasie ondergaan waar sekere senings terug geheg is aan die heupbeen. 'n Kort sinnetjie met gelade inhoud, want daar sit ek nou met nog 'n duidelike bars in my lewens-gieter. Die pad na algehele herstel lyk nog lank en steil en riskant. Miskien kry my gieter daarop nog 'n paar gate by.
Maak dit saak? Nee. 
Het dit sin?  Ja. 
AS ek kan volhard, en dit gelowig end-uit doen, met my oë gevestig op Jesus. 
Het dit sin om deur énige dal van beproewing of aanvegting te gaan? Ja. 
AS die beeld van Jesus sigbaar kan word deur daardie barste en Sy krag daardeur na ander kan vloei.

My vriendin, Johannet, kon met Palaza se verhaal identifiseer. Sy vertoon self ook menige krake in haar kleipot. Baie daarvan ken net sy en die Here, waar haar toevlug lê. Party se name ken ek ook : verliese, siekte, disleksia, kerklike afsondering, eensaamheid …
  
Persoonlike, liggaamlike pyn is onmiddellik en bars die klei. 
Emosionele, psigiese en geestelike pyn is eweneens onmiddellik en bring hul eie breuke mee. 
Die laste en beproewings van jou geliefdes is geneig om subtieler krake aan die agterkant van jou kruik te maak waar jy dit die minste verwag en waar die pyn jou onkant betrap. 
Die lyding van gebrokenes wat in jou skoot land, plaas druk, en verweer die ongeskonde dele van jou kleipot sonder toestemming.

Kan jy jou naam by die toepaslike plekke inskryf?

Mettertyd vind ons Palaza-verhaal uitdrukking in Johannet se kreatiwiteit met die volgende illustrasie :








Die inskripsie agterop sê onder andere :

“Hierdie verhaal het my hoop en begrip gegee waarom swaar en seer vir ons nodig is. Ek wil graag hê dat jy dit altyd sal onthou wanneer jy jou gebroke gieter water so gewillig op honger, verlore siele uitstort. Dit het my dors geles. Ek weet nou waar om die Lewende Water te kry. Dankie vir jou bereidheid.”







Paulus gee 'n ander beeld vir 'n soortgelyke waarheid :  
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; 
die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
(2 Kor 4:7)

Nou vra ek maar die vraag vir ons ander kleipotjies, wat ek weer in hierdie dae vir myself vra : 
Wat word deur ons aanvegtings, stryd, beproewings en uitdagings vrygestel? 
'n Vlaag van self-bejammering? Onvergenoegdheid? Innerlike wrokkigheid en verontwaardiging? 
Of word die plek van pyn en stryd die terrein waar die krag en lewe-gewende geur van Jesus vertoon en versprei word?

Ons is almal potte van klei. 
Kleipotte breek maklik. 
Meer nog : kleipotte moet breek. Die barste wys immers wie ek regtig is; maar terselfdertyd stel dit ook die kwaliteit en geur van die inhoud van die kleipot vry :
eie pogings
OF 
die alles-oortreffende krag van God.

Kom saam, Kleipot, en laat ons barste TEL!